Elkedag stories

Wys tans plasings met die etiket Hongerbult. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hongerbult. Wys alle plasings

Saterdag 11 Oktober 2014

Sop Kombuis


Hulle staan uitdrukkingloos in bondels, ou plastiekbakke en leë roomysbakke in die hand.
Ander moet vir ons sorg, ons het ons harte aan die drankduiwel verpand.
Armoede het ons keuses laat maak,
ons verstand, gees en siel naak
kwaad vir die lewe, lusteloos
opgehou hoop, van drank delms swaarkry voos
Ons waardes ‘n ashoop kosmos
‘entitled’ op ‘n ‘grant’ en kos
Woede, ‘resentment’ in meeste se kyk
Armoede se nood,
lankal dood...
‘Entitled’ op sop en brood!

Hongerbult se kind


Hulle sleep die tingerige seun in my kantoor in, 
sy oortreding by die skool was glo waansin. 
Hy hang skeef half opgekrul, terwyl twee seuns hom probeer regop hou.
Sy oë wild en sy hande krampagtig in vuisies gevou. 
Nega jaar oud in die wurg greep van gomsnuif vas.  
Net ‘n vuil kortbroek, geskeurde T-hemp, stink van lank nie gewas.
Gaan roep sy Ma! sê ek -  sy daag deurmekaar dronk op.  
Hy ruk en bewe, sy neus loop wit oor sy bolip.
Sy staar uitdrukkingloos na buite, oor haar kind wat was se kop.
Die lewe het Ma en seun ontglip.  
Ek hang ‘n kombers oor hom en gee vir hom brood.  
Sy oë is reeds dood.

Banking


Ek stap by die bank in om my salaris te bank. My liewe  werkgewer se effektiewe bestuursvaardighede se gevolge…ek kla oor hy my sekretaresse vir allerhande goed rondstuur onder andere. KFC vir hom,  toe is sy bestuur daarvan dat ek nou self my salaris kan gaan bank…so staan ek elke maand van ‘n halfuur tot ‘n uur in die bank, vandag vir die laaste keer.
Ewenwel so stap ek toe in, toe is die ry al by die deur uit…na ‘n volle halfuur staan ek nog steeds bankvas '(no pun intended') op dieselfde plek..
Ek kyk hulpsoekend na die personeel agter hul lessesnaars, almal vermy oogkontak , maar doen ook niks om die rye te bestuur nie. Aldrie kassiere is besig met groot besigheidskontant inbetalings. Kyk ek was 'n 'Trust Bank meisie in 1978... ek ken van en hierdie is nie goeie bankdiens nie.  Ek is besig om my stadig te begin vererg toe iemand my liggies aan die skouer tik. Ek kyk om vas in die glimlaggende gesig van ‘n skraal man… ‘Is Mev nie daai welfare vrou nie?, vra hy met ‘n hees stem. Ek sê ja… maar kan hom nie eien nie. Van waar ken ek jou? Sy vrou is met twee tree langs hom, Die kenmerkende tandlose glimlag. Dis ons kinders wat so stout was mevrou en die drankwalm slaan my tussen die oë. Sy is duidelik agv al die drank in haar, dis mos' pay day' trots op die saak en kyk glimlaggend na die twee rye agter ons wat haar almal sonder uitdrukking aanstaar.  Ek onthou dadelik, hul kind is  met drie ander  gevang vir diefstal van yster en hul vonnis is afgewentel na gemeenskapsdiens. Ek het hul opdrag gegee om die erf rondom die kantoor te kom skoffel. Ek sit met pleegouers en skryf verslae en na so uur besluit ek om te gaan kyk hoe ver die kinders is. Almal so tussen veertien en sestien jaar oud. Ek het met die aanvanklike gesprek die ouers gemaan om ook daar te wees en te kom toesig hou. Slegs diè een egpaar daag op. Toe ek om die hoek kom vervies ek my al want na ‘n volle uur is daar weinig gevorder en die bossies net bo die grond afgeskoffel….maar laat ek hom die storie vertel.

Hy is hoog in sy skik oor ek hulle dadelik onthou en draai met ‘n galante beweging om na sy stilswyende bankkliënte gehoor. Dis die welfare mevrou die!…stel hy my voor en ‘sy vatti kak nie’… lig hy hulle in. Ek lag die gehoor wakker en die konsultante en ander personeel se koppe ruk op. Seker lanklaas iemand in so lang ry, hoor lag daaroor.

Hy het nou die twee rye se aandag en die ‘performance’ kry lewe. Hy beduie…die welfare vrou  laat die kinders toe mos skoffel vir hulle straf…en toe kom kyk sy wat maak hulle…sy sien my daar lê ‘minding my own business’  ma ek kan sien sy vererg haar. Sy gryp daai graaf  raas  terwyl sy skoffel dat die bossies spat en sy raas en sê so skoffel mens'… dit nou alles terwyl hy dit dramaties  met groot arm geswaai en handgebare wys. Sê die 'werlfare' vrou vir my,  ‘lig jou,  jy is die pa, wees ‘n voorbeeld i.p.v daar te lê,  wys hulle hoe skoffel mens…Nou kyk, ek is ‘n ‘artist’ vertel hy hulle half uit die hoogte en hy en draai sy hande dramaties heen en weer,  kyk die ‘paint’ op my hande (hy blyk toe ‘n verwer te wees)…ma ek skrik so,  vertel hy verder, ‘ek drop my ''pride net daar en gryp daai graaf en ek skoffel want ek sien toe die vrou 'means business’’.

Ek lag my gedaan vir hom en toe alles bedaar... sê  ek vir hulle ek maak vandag klaar daar by Hongerbult. Hy wys sy skok en kom haak ewe vertroulik by my in.. ‘Nee Mevrou, man..sê hy’ waar gan ons nou iemand kry wat luister, ons verstaan en ons reghelp, ma okki kak vatti? Die gehoor lag onderlangs.  Ek lag en raak huilerig deurmekaar,  trane lê vlak oor Hongerbult se mense. Sy vrou sien dit en kom staan teen aan my. Mevrou sê sy as jy hartseer raak of 'down' voel,  bel hom net, hy kom dadelik…hy 'entertain so die heeldag en sy kyk vol bewondering na hom op. Ek kyk op en ek is voor in die ry..al my viesgeid lankal afgestroop en nou heeltemaal....deur die verstaan en empatie van ‘n hierdie lieflike skraal dronk vrou…Hongerbult se mense.

Die handtekening



‘n Ouma staan in die deur. ‘Kan ons asb die polisie bel en mevrou moet saamkom dat ek my kleinkind daar in die lokasie gaan haal, sê sy alles in een asem. ''Wat het gebeur? vra ek. ‘Nee mevrou, my niggie het gebel da uit die lokasie, daai stout kind van my sit in drink met die kleintjie saam haar inni Tavern. Ma ons poliesman ken die geval mevrou, bel hom hy sal kom’.

Ek bel my 'bodyguard' polisieman en binne 10min is hy daar. Ek vra hom of ons nie asb sommer by ‘n ander man ook kan aanry nie, ek soek nou al maande lank ‘n handtekening maar kry hom net nie nugter nie.  Na ek met hom ‘n gesprek gevoer het oor die kind, wat deur bekommerde bure uit die pa en ma se sorg na ‘n verantwoordlike vrou geneem is een nag nie.  Ek het hom ‘n verklaring laat aflê en hy moes toe wag dat die predikant die verklaring bekragtig maar los dit toe net daar en maak spore na hy hartstogtelik gepleit het hy wil nie hof toe gaan nie, hoekom, wil hy nie sê nie.

Die polisieman sê, ry  jy voor. Ons stop en eers is alles doodstil maar die voordeur staan oop. Sarah sê ek vir die ouma... wag net hier ek is nou terug en klim uit. Ons gaan by die voordeur in. Die erf lyk of dit as die plek se asgate gebruik word dis net papiere, plastieksakke bottels en blikkies.  Die voorkamer lyk of ‘n kos en gemors orkaan hom getref het. Daar is ‘n slaapbank oopgeslaan met grysbruinvuil komberse op. Die twee stoele wat daar staan is basies net raamwerke en binne in bietjie stofering en vuil papiere en blikkies in. Ou kos lê op die vloer en meubels sommige baie lankal vasgetrap maar skynbaar was rys een van die laaste disse. Dis rys net waar jy kyk. Sou hulle mekaar daarmee gegooi het wonder ek. Die mure is pikswart en dit voel of ek in ‘n grot staan. Die polisieman loop regdeur en ek agterna..die kombuis is ook pikswart die kaste gaap oop  ook swart binne in maar dolleeg. Die hele een toonbank is vol hoendervere en bloed. ‘Lyk my hulle het eers met die hoener baklei sê die polisieman so terloops oor sy skouer en stap agter uit en ek nou baie dik van die lag agterna.  Agter staan die klomp soos vasgekeerde skape gebondel,  seker uit gehol toe ons voor gestop het.

Agter is ‘n sinkhuis en as dit enigsens moontlik is nog vuiler as die huis voor. Die paartjie bly daar,  hulle is beide stormdronk, dit is half tien in die oggend. Die dronk paartjie, hul pa en ma, ook nie te nugter nie, die paartjie se jongste, so 2jr oud vuil met net ‘n t shirt en ‘n broekie aan, dit is net 9 grade buite, nog ‘n suster met ook ‘n vuil baba op die heup, staan almal sonder enige doel of rigting en uitdrukking. Kom sê die polisieman, sonder om lang stories te maak, kom teken hier Dan. Die ma kom aangeslinger, nie ‘n tand inni mond, die oë wild, daar moes dagga ook gerook gewees het, daar is gerugte daaroor by dié huis. Die pa kom dronklyf half teen my staan, gee lat ek teken sê hy met ‘n bravade asof hy ‘n prestasie gaan bereik, die ma slaat na hom met ‘n slap dronk arm...’jy sign nie ons kind weg nie, jou sleg ding,’ gil sy vol veroordeling, want die drank bring ‘n heerlike vergetelheid dat sy deur verwaarlosing drie kinders deur die Kinderhof sisteem het. Die man stamp haar ongeërg weg. Sy storm weer nader en probeer mik maar slaan toe my so skrams raak.  Hey! skreeu die polisieman, gedra jou en klap haar met die plat hand dat sy so paar tree weg slinger.  Ek weet nie waar om te keer nie.  Ek probeer die man gefokus kry om te teken en hy teken met ‘n ‘flourish’ mens sou sweer hy teken ‘n tjek van duisende rande. Ek kyk op en tot my verbasing sien ek die hele erf is vol mense en ek voel hoe my oë rek, want reg voor in die skare staan ‘n reuse vrou met swart moesies oor haar hele gesig. Sy het net ‘n breëband wit bra aan en ‘n skokpienk handdoek om die gewigtige lyf gedraai. Sy moes besig gewees het om aan te trek maar nuuskierigheid het skaamheid oorwin. Nie dat dit die skare pla nie,  dis skynbaar net ek wat dink dis ongehoord snaaks. Die pa slinger weg, hier is nog een wat jy moet teken roep ek hom terug en hy kom weer teruggeslinger en kom lê so half teen my en teken met dieselfde oordadige handswaai die tweede kopie. Die ma bly op hom skêl maar bly so paar tree versigting weg soos ‘n hiëena wat bang is vir die leeu by ‘n bok, veilig uit die bereik van die polisieman se moontlike handklap.  Ek groet almal vriendelik soos dit ‘n maatskaplike werker betaam. Die skare is egter nou deel hiervan en dis ‘n ‘sjerrap Mieta, hou jou bek dronkgat, en klap ha wee! Inspektor!-koor. Ek kry arme Mieta half jammer. Ek besef hulle dink dit gaan oor die jongste, wat glo veronderstel is om onder toesig van die oupa en ouma te wees maar betwyfel sterk die veiligheid en welsyn van die arme kind.  Ek roep die oupa en verduidelik dat dit oor die dogtertjie gaan wat reeds in die voornemende pleegouers se sorg is, totaal ondervoed gewees, erge fetale alkohol sindroom en steeds half haar veronderstelde gewig.  Hy is dankbaar en sê hy sal sy seun sê as hy weer nugter is. Ek verduidelik dat ek lang gesprekke wel met hom gehad het en hopelik sal hy onthou wat ons ooreenkoms was.  Ek herinner hulle daaraan dat hulle baie welkom is om vir die kind te gaan kuier maar hulle moet nugter wees. Hy belowe plegtig. Ek groet en Mieta het die glimlag as ‘n geleentheid gesien . Sy kom lê vertroulik teen die bakkie se deur, kan nie eintlik regop bly daarsonder nie en sê sleeptong...en het Mevrou vir Mietatjie vergeet want ek het dan nie ‘n kombers gekry nie.  Ek sê kom maar as jy nugter is. Kom weg daar skreeu die poliesman en sy skarrel vinnig weg terwyl die skare haar verder toesnou. Daardie middag begin ek jeuk en besef net die paar oomblikke in die grotvuilsitkamer het skynbaar die vlooie geleentheid gegee om op my te klim. Ek lyk te naar en  jeuk dat dit ‘n aardigheid is. Ek vervies my  vir hierdie vuil huis waar drie volwasse vrouens woon en voor werk die volgende oggend , kwart voor agt stop ek die 'welfare' bakkie seker tot hulle ontnugtering weer voor hul deur.  Die bure peul dadelik weer uit hul huise en in die erf in om te hoor wat het die welfare nou te sê. Ek roep die ouma, groet en praat baie ferm: ‘ Mevrou ek is vol vlooibyte, dis omdat julle huis en tuin so vuil is Dit is onaanvaarbaar. Geen kind kan in so vuil plek bly nie. Ek gaan vanmiddag kom kyk, as hierdie plek nie silverskoon is nie dan moet ek maar hierdie kind ook verwyder, hy kan onmoontlik nie in so vuil plek grootword nie, en dit is buiten julle gedrink en dagga rokery. Mieta  die ma is by, ernstig  en sonder die bravade die keer, die oë rooi belope en steeds nie heeltemal nugter nie en  die jonger dogter met die baba op die heup is ook daar, almal se koppe knik op en af , die fight uit hulle uit so vroeg in die more en die pienkhanddoek buurvrou begin sommer terstond papier in haar erf ook optel, want sy sien hier kom moelikheid. Daardie middag stop ek en stap in, die ouma lê op die bankbed en skarrel met haar vet ronde lyfie om regop te kom, middag mevrou sê sy en nooi my met  selfvertroue en 'n vinnige handgebaar die  huisie in. Ek staan regtig verstom , hulle moes sonder om te rus gewerk het.  Ek  herken amper nie die plek nie... dis skoon, mevrou!  en sy  wys trots na die kombuis se kant toe, ons moet nog net die mure was sê sy ... ek bedank hulle en oooo! en aaa! regtig beïndruk  oor die skoon huis en erf. Dis wonderlik sê ek, kyk nou net wat julle drie vrouens reggekry het. Die ouma en Mieta lag oopmond en die jonger ma glimlag terughoudend.  Ek gaan elke week kom kyk...is dit reg so? Die koppe knik op en af.  Dalk gebeur daar nog wonderwerke , hulle het darem iets gedoen om die vyfde kind te behou dink ek dankbaar, klim in my bakkie en waai vrolik vir pienkhanddoekbuurvrou wat maar huiwerig terugwuif met die papiere wat sy vinnig by haar opgetel het in die hand.!
Mevrou word nie kwaad nie.. se die ouma wat geduldig gesit en alles aanskou het terwyl sy in die bakkie wag... .. ek dink so biejtie oor haar vraag.. . Nee, antwoord ek mens word nie kwaad oor wat jy doen as jy gedrink is nie... mens word kwaad  dat hier nooit  in al die jare... deur die 'powers to be' iets gedoen is om hierdie verskriklike toestand van drank, dwelmmisbruik, swak skole, geen hulpbronne.. voorkom is nie. Sy knik haar kop somber... kom ons gaan haal jou kleinkind...sê ek en ons ry ver  tot by die volgende township, tot by die volgende baklei vir 'n klein kind se versorging..

Blind



Die gemeenskaps lid met die ‘haar extentions’ staan weer in die deur. Hy kom deel sy bekommernis oor ‘n vrou wat glo blind is, in die strate slaap of op die ou stasie se stoepe, sy word besteel en is al verkrag vertel hy. Bring haar sê ek.  So twee ure later kom hy met ‘n baie maer , vuil en verslete vrou by hom ingehak, ingestap. Ek skat haar so sewintig jaar oud. Sy het omtrent nie ‘n tand in die mond nie en die hare by die slape is spierwitgrys.

‘Wat is jou naam?’ vra ek. Ek sit verstom terug toe sy antwoord,' Irene, mevrou'...sê sy in ‘n goed gemoduleerde stem. Ek moet my oë toe en weer oopmaak om die stem by die vrou te kry.  Die man vra of ek nie asb kan help om Irene in ‘n' shelter' te kry nie.  Ek neem haar besonderhede en vra haar ID.  Ek sien met ‘n groot skok dat sy maar 42jr oud is. Vertel my jou storie Irene, nooi ek.
Sy vertel dat sy as jong meisie Durban toe is en daar as ‘n huishulp by baie vermoëende mense gewerk het.  Sy het ‘n vriend ontmoet en na ‘n paar maande besef sy is dalk swanger. Hulle het na Addington hospitaal gestap om swangerskap toetse te gaan doen toe ‘n kombi van agteraf hulle raak gery het. Die man is op slag dood en sy het in die hospitaal wakker geword. Sy het haar een oog in die ongeluk verloor en kort daarna kanker in die ander oog gekry en die oog ook verloor, en toe is ek blind vertel sy.  Die baba het egter geleef.  Sy het begin drink besef ek ... want hoe verwerk mens so ‘n trauma...? Verlief en opgewondende oor ‘n baba tot weduwee, enkelma, blind, sonder werk, noodgedwonge terug by en die spot van die Hongerbult gemeenskap.

Ek ken nog nie die hulpbronne van die dorp so goed nie en  gaan gesels gou met die sekretaresse en vra oor moontlike 'shelter's en of sy Irene ken,  aangesien ek maar ‘n paar maande in die dorp en pos is. Mevrou sê sy , ek ken Irene, sy vertel nie alles nie.. sy is ‘n moeilike vrou.  Sy was al in al die shelters maar hou net ‘n rukkie, dan wil sy drank hê en as sy nie kry nie of toegelaat word om dorp toe te gaan nie begin sy vloek, skel en baklei.  Niemand wil haar meer vat nie, ook nie haar familie nie.

Ek is terug na Irene en sê vir haar dat ek hoor dat sy drank misbruik en die probleem dit baie moeilik maak om haar te help.  Sy trek haarself regop en in die pragtige Afrikaans sê sy verontwaardig. ‘Natuurlik drink ek Mevrou, maar slegs ‘n glasie of twee soms by ‘n partytjie.  As ek my oë toemaak behoorte die stem by ‘n geleerde vrou met gestylleerde hare, pêrels om die nek, ‘n fyn wynglas in 'n slanke goedversorgde hand by ‘n skemerkelkpartytjie.  Die onmoontlike prentjie en die realiteit laat die lag uit my borrel. Daar is ‘n rukkie stilte en weer die mooi stem ...  Hoe lag die mevrou dan nou so vir my? Irene sê ek en besluit om eerlik te wees. Jy het jouself seker baie lanklaas self gesien, maar jy is baie vuil, jou hare is spierwit grys en jy het nie meer tande nie, maar  jy is 'n slim vrou en  jy praat ‘n pragtige Afrikaans, maar ek glo nie dis net soms ‘n paar glasies nie? Glad nie afgesit oor die beskrywing, lag sy saam en  sê: "Ja, Mevrou ek het vir belangrike mense in Durban gewerk maar nou het ek niks. Ek het drie kinders, almal weggevat en is  by vreemde mense, niemand wil my hê nie, in die nag as ek slaap ruil hul my nuwe klere vir ou gemors om en almal jaag my weg".  Ek sê, dis ongelukkig oor jy so vloek en skel as jy gedrink is Irene’. Maar mevrou sê sy ek het nog net my stem as ‘n wapen. .....en die trane begin loop uit die blinde oë. Ek voel 'n besondere deernis vir Irene.  Ons kry ‘n veraf familie lid wat haar kom haal en belowe om na haar te kyk. So drie weke later een etenstyd stap ek uit om die mense wat kom kos haal by die sopkombuis te  groet ''Hallo mevrou, word ek vrolik gegroet, ek kyk om, ‘n skraal vrou met tight jeans, ‘n rooi toeknoop truitjie en ‘n blonde pruik met groot swart donkerbrille en ‘n rooi geverfde mond staan skalks en glimlag teen die kerkmuur. Sy het  my stem herken. Sy voel seker  my onsekerheid aan en sy begin lag met die tandelose mond...  ooooooooo sê sy mevrou ken my nie...dis ek Irene, en sy lag weer guitig. Genugtig Irene, sê ek maar jy lyk goed , gaan dit beter met jou?. O ja mevrou sê sy en gaan staan in die ry vir kos... skynbaar sorgloos en ek wonder hoe lank die sewe vet jare gaan hou maar verlig want haar gemoed en voorkoms lyl soveel beter........maar blind vir altyd blind na binne en buite.............

Games



Ek ontvang ‘n brief van die hoof staatsaanklaer. Kan ek asb ondersoek instel. ‘n Jong ma is gevang en aangekla volgens die Kinderwet, dat sy haar kleuters laat bedel in die straat en so die kinders aan gevaar blootstel en ook bedrog pleeg omdat sy wel staatstoelae ontvang.  Ek ry na die blikhuisie  in hongerbult toe en kry die nommer na 'n lang gesukkel.. Niks is numeries of in enige logiese orde. Alles is toe geslot en grendel. Ek ry na die suster se huisie toe waar volgens die staatsaanklaer die kinders gelaat is. Die sit met ‘n gebreekte been in gips op ‘n omgekeerde blik, agter in die erf en ‘n hele paar mense om haar, sommer so op die grond. Hulle verdwyn soos mis voor die son?. Wat het gebeur vra ek, nee sy het daar by die agterdeur uit geval sê sy. Ek slaan my verbeelding hok oor die vooraf storie voor sy by die agterdeur met die hoë trap afgeval het en vra wat het van haar suster en die kinders geword. Die ma het haar kinders kom haal sê sy, en hulle het baie gehuil oor haar sê sy verontskuldigend maar ek hoor die verligting in haar stem. Die wonder van ‘n kind dink ek... mishandeling,  maar die ma is die ma. Ek soek lank maar niemand kan haar opspoor nie.

SASSA ontvang kospakkies en die nuus versprei soos ‘n veldbrand... en daar is gou ‘n lang ry elke dag voor my deur.  ‘n Maer man met een oog stap in. Karools is sy van en hy gee sy adres , en ek herken dit dadelik. Waar is Mary, vra ek dadelik.. nee, sy is ma da by die huis sê hy en die een bruin oog kyk my behoedsaam aan.  Waar is die kinders vra ek?  Nee, die oudste is by die suster in ‘n naburige dorp, sy gaan daar skool en die ander een is ma hi.  Sê vir haar ek wil haar dadelik sien, sê ek.  

Sy daag die volgende dag op en staan vroeg wantrouig gehoorsaam by my deur met die vier jarige kind by haar.  Haar lippe is geswel en gebars van die spirits. Sy en die kind is vuil en verslete.  Ek soek jou lankal Mary sê ek, hoe gaan dit met jou?  ‘Nee goed mevrou’. Het jy al werk gekry? Ek was so eenmaal ‘n maand wasgoed vir iemand hi, sê sy”. Dis goed sê ek.

Die kind is baie nuuskierig en die ogies blits oor alles. Hy sien dadelik die mandjie vol sagte speelgoed raak en vra of hy daarmee kan speel. Ek is verras oor die maniere en sê ja dit is net vir kinders daar... hy pak dit dadelik uit en gesels onderlangs met homself. Ek sit met my skootrekenaar voor my en tik sommer direk al die inligting sodat ek dit vir die staatsaanklaer kan deurstuur. Die seuntjie is gou verveeld en kom staan langs my. ‘Antie vra hy, terwyl sy ogies vasgenael op die skerm is...’speel jy lekke games?  Ek lag uit my keel en die ma gooi haar kop agteroor, skop haar bene uit en lag heerlik saam, ek glo nie sy verstaan waarom ek lag nie, seker maar net baie verlig dat die welfare so lekker lag.  Die kind bly in ‘n shack, bedel op straat maar hy weet van TV games...Leef ons nie in ‘n interessante eeu nie?  Ek lag so vir die prentjie hier voor my, ek kan nie geantwoord kry nie maar sê nadat ek bietjie bedaar het. Nee, tannie werk...hy kyk my ongelowig aan, asof hy dink ‘ you could have fooled me’ hiri goed is net vir games. Sy ogies vang die skerm van die ander ou rekenaar en sy volgende vraag laat my weer hard lag... werk dai TV nie? Nee, sê ek dis ‘n rekenaar , sien die onkunde in die ogies en se ‘computer’...die ogies blink herkennend en hy vra kan ek op hom speel... nee, sê ek dit is ongelukkig af. Hy bly langs my staan ... en vra weer... is hi ni games op nie?...die hoop beskaam nie ... dink ek .

Ek verduidelik vir die ma dat die kind nodig het om te leer aangesien hy ‘n slim, nuuskierige  kind is en  laat die ma belowe dat sy hom na ons dagskooltjie sal bring. Bring hom asb pleit ek... sy belowe en hulle loop... die kleintjie skree vrolik baai en waai met die vuil handjie en verdwyn om die hoek!  Ek hoop hulle kom want miskien kan ons die outjie ‘n toekoms gee want sy ma het reeds lankal hoop verloor en haar oorgegee aan die vergetelheid wat drank bring. 'n Week later kom skryf sy hom in....

Boetman



Ek sit in my kantoor, dit is op die VGK kerkperseel van Hongerbult, dit was eers die toilette maar is nou my kantoor en die dagskooltjie se toilette is nog steeds langsaan. Die vertrekkie is roomyspienk halfpad en ‘n roomgeel bo kompleet soos ‘n draairoomys geverf.

Op die tafel langs pers, rooi en geel nagemaakte blommetjies in ‘n plastiekhouer, lag die adminbeampte se mansvriend my wittand toe in ‘n blou portretraampie. Die eenkant van die muur is vol geplak van gebeurtenisse! Notas en tel nommers. Oor die klein venstertjies hang geblomde ou gordyne met ‘n satynstrik vasgebind. Die lessenaar se boontste laai is sonder ‘n handvastel en die kaal spykers staan soos ystervarkpenne en haak getrou elke oggend in my klere vas... nie trui, jas of rok vriendelik nie.. ek het gou daarom geleer werk.

Elke oggend klokslag om tien oor tien kom die rye kleuters van die Dagskool en groet-sing hul fyn hoë stemmetjies, Mooooore taaaaannie Maaaaarna, dis nou na ek hulle so geleer het om te groet as hul ‘n volwassene sien. Aan die anderkant van my kantoor het die mense van die huis langsaan  die kerkerf vir hulself toegeeien  vir hulle self lang wasgoeddrade gespan van hul huis se dak tot aan die boom langs my kantoor. Elke Maandagoggend klokslag as ek by die werk kom groet helder bont waaiende kledingstukke, babadoeke en bloemers  my.  Papier, leë blikkies, plastieksakke en bierbottels lê vas gewaai teen die kerk se heining en groet fladderend saam in die wind.

Twee polisievroue wat gevraarlik uit hulle uniforms bult klop aan die deur. Aan die hand staan twee dogtertjies, so 9 en 11 jr oud, die gesiggies ernstig, die skoolklere vuil en aan die voete skoene sonder sokkies.

Ek stel myself voor en die polisievrou sê ek moet asb vir die twee kinders help hulle het by die skool kom vertel hulle ouma se nuwe kerel dreig hy gaan hul verkrag en hul sy vrouens maak.  Waar sou ouma al die energie kry wonder ek en probeer fokus op die probleem. Waar is die ouers vra ek?  Beide se ma’s is oorlede, hulle is halfsusters en hul pa se naam is Boetman, lig die  die polisievrou my in. Die kantoor is te klein - ons staan buite in ‘n kring en praat. Een van die Beheerraadslede sit in die kombuis en tee drink.  Ek laat haar roep en vra of sy van iemand in die gemeenskap weet wat die twee kinders sal neem tot die einde van die kwartaal want dan kan hulle na ‘n tante in ‘n naburige dorp gaan. O ja, sê sy, en gee flink ‘n telefoon nommer.  Die ou tante klink heel opgewonde en sê dis reg. Ek naïef verwonderd oor die onvoorwaardelike hulpverlening.  Ek bel die tante in die naburige dorp en sy sê ook dadelik sy sal die kinders neem maar sy sal eers in die vakansie die kinders kan kom haal.  Ek vra die polisie vroue om die kinders te gaan help pak en die pleegpa saam te bring.

Boetman, glo die een kind se pa, daag vol verontwaardige woede op.   Wat gaan hier aan, wil hy weet, niemand anders kyk na my kinders nie, begin hy bakleierig sommer so met die intrapslag.  Mnr, se ek, as die kinders nie veilig is nie, is dit my verantwoordelikheid ... weet jy van die dreigemente van jou ma se vriend?... ja, sê hy, maar die man bly nie daar nie… hy kuier net daar... Wat dit aan die risiko vir die kinders verander verstaan ek glad nie … die dogtertjies begin huil en die een praat in Xhosa met die polisie vrou. Wat se sy? Vra ek … nee sy sê die pa se girlfriend stuur hulle in die aand as dit reën na die tavern om drank te koop en as hulle weier knyp sy hulle en sy tel haar rok op en wys die spierwit merke wat beteken dit was stukkende vel op ‘n tyd.  Ja, sê Boetman, steeds verontwaardig en staan dreigend vorentoe.. as kinders nie luister nie moet hulle dissipline kry. Ek is so verontwaardig  ek kan my tong insluk maar probeer kalm bly en sê vir hom hierdie is nie dissipline nie, dis mishandeling,  en om sulke jong kinders uit te stuur omdat julle wil drink en te lui is, is verdere mishandeling. Die Kinderwet maak voorsiening om jou ook aante kla Meneer, die Polisie dames skud hulle koppe op en af in beaming van elke woord.  Boetman hou hom braaf en begin skree in Sesotho wat flink deur die een polisie vrou vertaal word … niemand vat my kinders nie, ek kan self vir hulle sorg.  Mnr, se ek, die Kinderwet sê ek moet die kinders van jou wegvat want jy sorg nie vir hulle veiligheid nie… Hy staan verontwaardig met sy voet in die grond  en boor en gluur my aan.

Intussen het die ou tante wat sal help opgedaag.  Sy kloek om hulle en ek laat hulle bietjie sit en gesels sodat hulle nie so vreemd voel nie.  Boetman wil nog verder baklei maar ek vra die polisie dames om hom terug te vat en die kinders en ou tante te gaan aflaai dat hy sien waar hulle gaan bly.  Die kinders lyk baie verlig en is hand aan hand met die tante en hul een sak klere daar weg.

Slegs twee weke later staan die tante voor die deur, die gesig vies en verontwaardig. Ek moet kos gee sê sy of reël vir die grant… Mevrou, sê ek verslae, dit was nie die ooreenkoms nie… jy het vrywillig jou hulp aangebied. Nou wat moet ek hulle gee, vra sy dikmond.  Die ooreenkoms vra werk en geduld blits haar oë beskuldigend, nou moet ek kosgee en hulle versorg en ek het gedink ek gaan voordeel trek, al die kloekende lag van twee weke terug, uit die oë. Dit het net oor moontlike staatstoelae gegaan dink ek, vies vir my blinde vertroue en geloof in mense se goedheid.

Ek praat mooi en sê dit is nog net 2 weke dan is die kinders weg. Sy is kwaad en die woede plof saam met elke tree weg om die hoek.  Na ‘n week is die twee kinders voor my deur ... die enetjie huil dat die trane spat en die ander een voer die woord.  Hulle wil nóu na die tante gaan, sê sy, daai antie lat ons net werk, en stuur ons winkel toe en ons is honger, sy sê ons moet die welfare kom vra vir kos.  Ek paai en gee hulle elkeen ‘n appel en brood wat ons van Pick ‘n Pay geskenk kry.

Die einde van die kwartaal breek aan en die kinders gaan vir die vakansie na die tante met die ooreenkoms dat Boetman se eie kind sal terug kom maar die ander een gaan daar bly. So week in die vakansie in staan Boetman voor die deur.  Djy moet iets doen, val hy met die deur in die huis, hy hoor die kinders is stout da by daai vrou’… hy het ‘n hele lys van klagtes teen die tante.

Ek skakel die tante.  Middag, sê ek, dis die maatskaplike werker hier. Middag Juffrou sê sy en klink baie formeel en ordentlik soos elke vorige keer. Agnes sê ek, Boetman is hier by my en sê hy hoor stories dat die kinders daar in die strate rondloop en nie veilig is nie en laat in die aand eers met tjommies (vriende) inkom. Daar is ‘n rukkie doodse stilte en die volgende oomblik skree Agnes skril in my ore: ‘...Djirre ma dai Boetman kan kak praat. Hy moet daai dinge hier kom sê, ek sal hom klap lat hy tol”... Hierdie keer is die stilte aan my kant, die vloeke en dreigemente stroom uit haar mond van wat sy alles van Boetman en sy stories dink... ek druk die foon toe en lag uit my keel, dit was so onverwags ek kan dit net nie help nie.  Boetman staan so skuins by die deur en kyk my sonder ‘n uitdrukking aan.  Ek kan sien hy dink die djuffrou lag darem lekke saam met die Agnes en hy vertrou die vrede niks nie.  Ek probeer my bedwing en antwoord Agnes kalm. ‘Agnes ek gaan nou nie betrokke raak in ‘n oor en weer geblameerdery nie.  Ek sal die Maatskaplike werker daar vra om ‘n tuisbesoek te gaan doen.  Is dit reg so?’  Dis reg Djuffrou, en ek lui vinnig af want ek kan hoor Agnes het nog baie vir Boetman so langs die telefoonlyn af te sê.  Mnr, sê ek, jy het gehoor wat ek sê, ons wag nou maar vir die verslag en dan maak ons ‘n besluit.  Boetman loop vloekend en kopskuddend weg en skop na die papiere rondom sy voete.  Hier kom moeilikheid besef hy, sy pleegouertoelaag is nou erg in gedrag... geen werklike gevoel vir die kind nie, ... die drinkgeld gaan minder word en hy hou daarvan net mooi niks. Die papiere flap onder sy voete en waai troosteloos weg, na nêrens, soos Boetman se lewe.  



Vrydag 10 Oktober 2014

Die vrywilliger

Ek sit en tik  aan ‘n verslag in my kantoor toe ‘n ouerige vrou en ‘n ongelooflike vuil kind, ek skat hom so 'n 2 jarige, in my kantoor verskyn.  Voor ek nog iets kan sê is die kleintjie blitssnel hier langs my en druk so vinnig soos ‘n koperkapel met albei vuil handjies gelyk op die sleutels van my skootrekenaar... letters en syfers verskyn met die spoed van lig op die skerm en ek gryp die seuntjie met ‘n ewe vinnige beweging en gee hom vir die vrou met ‘n ‘hou hom vas asb, bietjie bewerig terwyl nagmerries van verdwene verslae deur my kop warrel! Die een vrywilliger van die kombuis verskyn soos ‘n voorbode huiwerend agter die twee.  Hoekom is u hier? my standaard vraag.  Sy laat haar nie twee maal nooi nie en trek los.’ Mevrou ek is hier oor daai dogter van my, sy is baie stout, (hulle woord vir ‘n alkoholis, seksueel baie aktief en alle ander ongehoorde gedrag en gewoontes) en ‘sy eet die ‘grant’ mevrou’, wat in ons taal beteken, sy misbruik die kindertoelaag vir haarself en koop drank, en, kla sy met triomf in die oë, sy kyk gin niks na haar baba nie.  Mevrou moet daai baba vir my gee, ek kyk klaar na die een, en sy kyk met moederlike trots na die verby vuil seuntjie.  Met die praat kom die drank, ou vuur rook en dae nie gewas walms na my toe.  Die klere hang los pante aan haar en in die mond net hier en daar ‘n tand.  Ongelukkig, sê ek, is hier ‘n probleem, ek kan ruik jy drink self, hierdie seuntjie is ongelooflik vuil en jy kla oor jou dogter? Mevrou, teem sy met verontwaardiging in die stem, daar kom nie drank oor hiri lippe nie - ‘you could have fooled me', dink ek, self half bedwelmd van die goedkoop wyn walms.  Ek stop haar, ek gaan nie met jou stry nie, die drankwalms is baie erg, ek werk al lank en ken drank as ek dit ruik, so sit asb, dat ek eers jou naam en ander besonderhede kan kry.  Sy val onvas op die voete in die stoel. 

 Die vrywilliger bly huiwer in die deur en haar lyf wil iets se maar sy bly tjoepstil.  Ek is half verbaas oor haar gedrag want vertroulikheid word teoreties hier tussen die mense hoog geag.  Na ek die adres en die algemene inligting gekry het, vra ek: ‘het jy ‘n man?’ Ek vra nie sommer of hul getroud is nie. Sy draai haar kop skeef .. en die stem gaan so paar oktawe hoër. ' Wat vra mevrou my'? en sy kyk my aan asof ek ‘n moroon is, 'dai sleg ding, ek het hom djare terug al gesê hy moet fokkof' !  Die vrywilliger slaan haar hande saam en op ‘n nog hoër toon skree sy vir die vrou.  'Hey,djy kan nie fokkof voor die mevrou sê nie. Gaan huistoe, djy‘s gesuip!’  En so word die gesprek flink namens my beëindig en word die vrou summier huis toe gestuur. Die wonder van dit alles is dat sy ook net daar opstaan en by die deur uitslinger, terwyl sy vir die kind skree, kom ons gat huistoe!. Die seuntjie waai vrolik en skree 'koebaai!'.. 'Skuus Marna', sê die vrywilliger bedremmeld, 'dai vrou is so verlangs familie en ek het gesien hier kom nou moeilikheid, die wat ek agterna gekom het en bly staan het.'.  

Dalk moet ek die vrywilliger as ‘n assistent aanstel dat sy die kaf van die koring kan skei.  

Ek tik verder aan die verslag, kalm maar effe bedwelm van die goedkoop wynwalms.....


Lykswa vir Hongerbult


Marna, hier is iemand wat vir Marna wil sien se een van die vrywilligers  in die kombuis by my kantoordeur.
‘Ek is een van die Door to Door vrywilligers  se die man met haar ‘extentions’  in my deur.   ‘Marna, aangename kennis’, sê ek. . Mevrou se hy, ek is erg bekommerd oor ‘n vrou hier in die community. Sy loop op straat, sy is meeste van die tyd dronk en al verkrag en het ‘n klein babatjie op die rug.  Waar bly sy vra ek?  ‘Nee nêrens...sy slaap sommer in mense se agterplase of op die treinstasie se stoep.  Ma as mevrou ha ga soek moet mevrou die polieste saamvat, as sy dronk is,  skel sy mens erg. Het sy nie familie nie vra ek? Ja, maar hulle wil niks met haar te doene hê nie. Maar sy is moeilik mevrou, as sy nie drank kry nie vloek en baklei sy dis hoekom niemand haar meer  in hul huise wil invat nie en as sy drank in het is sy nog erger.
Ek begin navraag doen, almal weet van haar maar niemand weet waar om haar te kry nie. Twee maande later kry ek ‘n oproep. Mevrou ons het vanoggend ‘n baba hoor huil en kry toe vir Die vrou, haar naam in die gemeenskap,  en die baba hier in ons stoorkamer. Ek bel  Inspekteur Johnson, my hulp en ‘bodyguard’ as ek na moeilike huise gaan en spring in die bakkie en die sekretesse in haar karretjie agterna.  Ek maak die deur van die ‘stoorkamer’  oop en die hoenders spring kekkelend weg en hoendermis, hondemis en ou vuur reuke slaan my asem weg. Die vrou lê op ‘ n vuil stukkende matras met haar baba teen haar. Die baba het ‘n vuil hempie aan en ‘n stukkende rooi T-hemp vir ‘n doek. Hulle stink van koors en vuil . Ek skat  die baba  3 maande oud.  Die Inspekteur sê vir haar ons is daar om te help. Sy sê niks. Ek help haar op en hou haar vas, sy is baie swak.
Die vrou skel niks sy is te siek en hoes rou. Ons laai hul in die sekretaresse se kar en ek met die bakkie agterna hospitaal toe.  Ons wag lank en uitendelik word ons gehelp. Die jong assistent trek die vuil klere met ‘n vies gesig weg. Hy luister na haar hart  en toets bloeddruk, ‘baba makeer niks’ seg hy. Ek se ‘Neeee!! , sy is ondervoed en baie siek!’..nee, baie vol van homself en sy eie uitgedinkte kennis,  sy kan huistoe. Die vrou bly. Ek gaan soek vir haar nagklere en klere en babaklere vir die kleintjie. Twee dae later hoor ons Die vrou het gevorderde vigs, TB en erge longontsteking.  Ek kry vinnig ‘n vrywilliger wat die baba, ons hoor haar naam is  Eve, sal neem. Nog  ‘n vrywilliger daar in die kombuis, sy is ‘n kort mollige liefdevolle jong vrou. Sy en haar man neem Eve dadelik  onvoorwaardelik in.
Eve word gevoed maar gooi alles op, laat die vrywilliger  weet. . Ek vra dat sy Eve dadelik terug hospitaal toe neem. Eve se geboortesertikikaat sê sy is een jaar en 3 maande!! Maar 3-6 maande klere pas vir haar. Sy is 6 weke in die hospitaal. Die vrywilliger vat af en sit getrou die hele ses weke langs Eve se kot.  Ook HIV positief, ondervoed en baie swak. Ek onderduk met moeite die verontwaardiging oor die laksheid van die hospitaal want as hulle haar daardie dag opgeneem het was sy nou al baie beter.
Die hospitaal bel, ‘Jou klient het weggehardloop, wat moet hulle doen’? Ek stik van verontwaardiging... ‘ hardloop haar in hoe vinnig kan so siek vrou nou hardloop’, vra ek?. Hul kry haar net op die hoek uitasem op haar hurke, maar die volgende dag verdwyn sy weer. Twee weke later bel iemand uit die gemeenskap. Hul het  haar in hul agterplaas gekry en die ambulans het haar kom haal. Daardie Sondag is sy oorlede.  Eve is ‘n weeskind.
Niemand kom na vore alhoewel sy familie het êrens daar in Hongerbult. Ons kry ‘n baie goedkoop begrafnispakket van ‘n  simpatieke begrafnisondenemer. Die vrou het nie aan ‘ n kerk behoort nie en ek vra Ds Karools om die diens waar te neem. Hy sal dit uit die huis doen sê hy, sy kannie uit ‘n kerk begrawe word nie. Ek is verstom oor die Bybelse onwaarheid maar te bly hy sal haar begrawe.
Twee gesette vroue daag by die kantoor op hulle wil ‘n kollekte hou in die gemeenskap vir die begrafnis en hulle sal die kos maak. Ek is huilerig oor die omgee vir ‘n straatvrou. Ons samel R1800 in, ‘n geweldige bedrag vir ‘n werklose gemeenskap.
Die kombuisvrywilliger is weer by die deur , hier is familie van die vrou wat dood is wat Marna wil sien. Die man werk en sê hy het ‘n lening aangegaan by sy werk en sal die begrafnisreëlings nou oorvat. Ek is weer aangedaan dat die familie tog vorentoe gekom het  en ons bespreek die dag en tyd. Die volgende Dinsdag 12h00.
Tienuur die dag van die begrafnis bel Ds Karools vervaard. Die begrafnisondernemer sê daar is niks gereël deur die ‘oom’ en niks is betaal nie , en die hoender kook al vir die begrafnisete. Bring jou bakkie, jy is die lykswa lig hy my in.  Ek bel my man en sê ewe niksvermoedend ek is oor ‘n uur terug, die  werksbakkie is nou die lykswa.
Ek jaag verwoed deur die stofstrate, Ds Karools reël sommer manne langs die pad, spring in julle moet help met die kis en ek  kom by die begrafnisondernemer aan met ‘n klomp vreemde vrywillige kisdraers.  Nee sê  hulle ons moet eers vir Die vrou aantrek en ‘make –up’. Ek is  sommer weer  tranerig dat hulle dit doen vir ‘n amper verniet begrafnis en sit geduldig en wag. ‘n Groot vrou in swart geklee kom op die sypaadjie aangewaggel. Kan ek saamry? En terwyl ek nog my asem intrek klim sy hygend langs my in. En ons wag. Sy weet wie ek is en van deur die windgeid vra ek nooit wie sy is nie.  Ons gesels sommer oor dit en dat en ek vertel dat dit nou baie goed gaan met Eve.
Tien voor twaalf, die begrafnis is twaalfuur word sy agter ingelaai en ek ry respekvol 20km ‘n uur , met hoofligte aan die straat af, die lokasie in. Ek word met baie handswaai  en gebare van agter uit die bakkie pad beduie die stofstate in, hier regs daar links, tot ons by die huis waar die diens gaan plaasvind.
Die kis word afgelaai en in die voorhuis op twee kombuisstoele staan gemaak. Ek kry ere staanplek aan die kop van die kis. Die mense sing slepend en in die hoek snik die familielid wie die vrou nie in haar huis wou hê nie, nou hartstogtelik.
Ds Karools maak keel skoon en lees uit die Bybel, die mense kom en gaan en sterk hoenderreuke kom uit die piepklein kombuisie. Ds Karools trek los hier langs my en ek skrik my gedaan. “Die vrou is vir ons ‘n teeeeeeeeeeeeken dat ons nooooooit weeeeeer iemand wat noooooooooood het mag miskyk nie” , gil hy. Hy skree vir amper 15 minute oor die vrou se swaaaaaaaaaaarkry en hoe ons as community moet waaaaaaaaaak oor die wat siek is en swaaaaaaaaaaaarkry. Ouma snik al hoe harder en buite gaan daar ‘n geween op.
Bewerig verskree staan ek nog en dink hulle moet net nie die kis hier voor my oopmaak nie, toe flap Ds Karools met groot gebaar die kis oop. Die vrou lê met haar koppie skeef gedraai en die lippe is met swart gare toegewerk,..’ So much for the make up’ ..dink ek ontgogeld oor die Frankenstein gesiggie hier voor my. Ek sê van skrik bring ‘n kussing vir arme die vrou se kop, skoon in deur die wind geskrik en hulle hardloop die kamer in angstig om die opdrag van die ‘welfare’ uit te voer. Hulle kom met ‘n grusame bont kussing daaruit en bondel dit sonder seremonie onder haar se kop in. Ek moes dit nie gedoen het nie want nou is die swart toegewerkte mond oop en bloot en sy is reeds blou onder die vel. Ek wil nog vir die Ds. sê ek dink nie hulle moet die kinders inbring nie toe trek die klomp los met ‘n huilende lied en die kinders staan oopmond om die kis. Ek mompel vir die Ds. ek is nou in die pad en stap uit en gaan plak myself  neer op die lae stoepie vol stof voor die huis, my gedagtes en emosies ‘n warboel.  ‘n Halfuur later roep hulle my, ek moet die bakkie bring. Hulle laai haar in en die helfte van die begrafnisgangers saam met die kis in, duidelik nie soos hul voorvaders bang vir ‘n lyk en ‘n kis nie.
Ek ry en ry en ry en word telkens entosiasties verder aan gewuif. Doer ver tussen rante in, ‘n paar km van die dorp wys hul gillend daar is die begrafplaas. Moet ek inry ? vra ek ..natuurlik gil hulle..my vraag nie oor ek nie wil nie,  maar die pad as mens dit ‘n pad kan noem, is vol diep slote en bulte en ek sien al hoe lê die bakkie en die arme vrou op sy sy en wonder of die skroewe in my nek  hierdie tog gaan maak.
Ek ry ewe dapper aan en gee myself ‘n klop op die skouer vir ‘4x4 driving’ en is vlietend beïndruk met die bakkie se durf  deur die dongas. Reg aan die einde van die begrafplaas skreeu hulle stop!!!  Mense het verdwaal en ds.  spring in die bakkie om hulle te gaan haal. Oor die rante kom mense aangestap. Die vrou word in haar dood vereer met ‘n skare.
Ons het uiteindelik die kis by die graf en aangesien dit ‘n armmansbegrafnis is is ons verantwoordelik om die kis in die graf te kry.  Met die eerste probeerslag sien ons die graf is te klein , die kis word langs die graf neergeplons en die Ds. en ‘n paar manne gryp grawe en grou dat die grond spat. Dit is net stof en die Ds se hare en swart klere is binne enkele sekondes asvaal.
Die vrouens  bly  slepend met geslote oë voortsing  asof die grootmaak van die graf ‘n alledaagse ding is, dalk is dit.
Twee mans spring in die graf om die kis te help insit. Ek staan half weg teen die bakk en kyk op die graf. Die kis vang die een man teen die bors , net ek sien dit skynbaar, die vrouens staan steeds toe oë en sing en die Ds. ook waardig met oë toe en hoed op die bors.’ Jirre!’ skreeu die man daar onder uit die graf...die fokken kis druk my dood!! Ek spring met kloppende hart vorentoe en gryp Ds wakker uit sy singtrans...vir 'n oomblikl staan almal vervaard nader en klomp hande gryp weereens die kis uit en help die arme man (morsdood geskrik en hand op die pynende bors waar die kis hom gevang het uit die graf) weer is dit ‘n gegrou en stofwalms en uiteindelik is die kis onder in die graf. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer en Ds gooi ‘n allemintige bol grond op die kis. Die mense kom een vir een en gooi grond op. Ds. en die manne gryp weer die grawe en al om die beurt gooi die manne die graf  met groot entosiasme  toe en plegtig word die paar ‘plastic’ ruikers op die graf gedruk. Stof is jyyyyyyyyyyyyyyyyyyyy en tot stof sal jy teruuuuuuuuuuuuuug keeeeeer! 'Spanning en hartseer  werk vreemd op my, en my uitlaatklep  is om so halflyf in die bakkie in te hang en lag  en huil al my spanning en hartseer oor die vrou en weeskind Eve,daar in haar nuwe ma se arms , met ‘n skreeupienk satyn rokkie aan, daar in die bakkie uit.
Toe ek voel ek kan myself beheer draai ek om en begin om my kyk. Grafte so ver as wat die oog kan sien en my oog val op ‘n kindergraf en bo op is eerbiedig ‘n verskeidenheid van tietiebottels, dummies en ‘n grondvuil borslap as ruikers in die grond gedruk. Die seer in my word net meer. Die groot vrou met die swart gewaad klim weer sonder ‘n woord in die bakkie. Ons ry terug na die huisie waar die ete gegee word. Daar is nie ‘n gekuier nie en die mense kry elkeen ‘n ‘take away’ in ‘n wit polisterien bakkie en ‘n glasie koeldrank.  Die lykswa bestuurder kry niks. Die dame in swart vra weer ‘n geleentheid dorp toe en net voor ek haar aflaai vra ek..’en is u familie van Die vrou?..’ja’ sê sy sonder enige traan...’ek is die grootouma van die vrou’. Sy klim uit en haar wegwaggel sê ‘ek het nou my kant gebring’.
Drie uur die middag stap ek die huis in...emosioneel gewond oor my lykswa ervaring maar  my humor kry die oorhand. Waar was jy en wat de hel het jou oorgekom vra my man kwaad bekommerd ? Jy wil nie weet nie en  en bly vasgenael voor die vreemde vrou in die gangspieël staan. Ek is asvaal van kop tot tone, tot my wimpers klou stowwerig aan mekaar vas. Kom ons maak tee dan vertel ek jou...ek het jou mos gese ek was die vrou van  Hongerbult se lykswa....
Fokkof huistoe....
Ek sit en tik aan ‘n verslag in my kantoor toe ‘n ouerige vrou en ‘n ongelooflike vuil , ek skat hom so 2jr in my kantoor verskyn en voor ek nog kan iets kan sê is die kleintjie blitssnel hier langs my en druk so vinnig soos ‘n koperkapel met albei vuil handjies gelyk op die sleutels van my skootrekenaar... letters en syfers verskyn met die spoed van lig op die skerm en ek gryp die seuntjie met ‘n ewe vinnige beweging  en gee hom vir die vrou met ‘n ‘hou hom vas asb ‘, bietjie bewerig  terwyl nagmerries van verdwene verslae deur my kop warrel!.
Die een vrywilliger van die kombuis verskyn soos ‘n voorbode huiwerend agter die twee.
Hoekom is u hier ? my standaard vraag.  Sy laat haar nie tweemaal nooi nie en trek los.’ Mevrou ek is hier oor daai dogter van my, sy is baie stout, (hulle woord vir ‘n alkoholis, seksueel baie aktief en alle ander ongehoorde gedrag en gewoontes) en ‘sy eet die ‘grant’ mevrou’, wat in ons taal beteken,   sy misbruik die kindertoelaag vir haarself en koop drank, ‘en, kla sy met triomf in die oë , sy kyk gin niks na haar baba nie. ‘Mevrou moet daai baba vir my gee, ek kyk klaar na die een’, en sy kyk met moederlike trots na die verby vuil seuntjie. Met die praat kom die drank, ou vuurrook en dae nie gewas walms na my toe. Die klere hang los pante aan haar en in die mond net hier en daar ‘n tand. ‘Ongelukkig,  sê ek , is hier ‘n probleem,ek kan ruik jy drink self , hierdie seuntjie is ongelooflik vuil en jy kla oor jou dogter?. ‘Mevrou, teem sy met verontwaardiging in die stem,  daar kom nie drank oor hiri  lippe nie. ( ‘you could have fooled me’ , dink ek, self half bedwelmd van die goedkoop wynwalms.  Ek stop haar, 'ek gaan nie met jou stry nie die drankwalms is baie erg,  ek werk al lank, en ken drank as ek dit ruik,  so sit asb, dat ek eers jou naam en ander besonderhede kan kry. Sy val onvas op die voete terug in die stoel.
Die vrywilliger  bly huiwer in die deur  en haar lyf wil iets se maar sy bly tjoepstil . Ek is half verbaas oor haar gedrag want vertroulikheid word teoreties hier tussen die mense hoog geag.
Na ek die adres en die algemene inligting gekry het, vra ek:  ‘het jy ‘n man?’ Ek vra nie sommer of hul getroud is nie, dit bring net verleentheid. Sy draai haar kop skeef ..en die stem gaan so paar oktawe hoër. Wat vra mevrou my ? en sy kyk my aan asof ek ‘n moroon is, dai sleg ding, ek het hom djare terug al gesê hy moet fokkof !  Die vrywilliger slaan haar hande saam, spring tot in die kantoor  en op ‘n nog hoër toon skree sy vir die vrou.. Hey, ‘djy kan nie fokkof voor die mevrou sê nie.  Gaan huistoe djy‘s gesuip!’ En so word die gesprek flink namens my beëindig en die vrou summier huistoe gestuur. Die wonder van dit alles is dat sy ook net daar opstaan en loop, terwyl sy vir die kind skree , kom ons gat huistoe! .
Skuus Marna, sê 'n baie bedremmelde vrywilliger , dai vrou is so verlangs familie en ek het gesien hier kom nou moeilikheid,  die wat ek agterna gekom het.  Twee belangrike insigte die oggend.. een, praat net hard en sêe gaan huistoe...en  dalk moet ek die vrywilliger as ‘n assistent aanstel dat sy die kaf van die koring kan skei. En ek tik verder aan die verslag, kalm bedwelm van die goedkoop wynwalms.....