Elkedag stories

Saterdag 11 Oktober 2014

Blind



Die gemeenskaps lid met die ‘haar extentions’ staan weer in die deur. Hy kom deel sy bekommernis oor ‘n vrou wat glo blind is, in die strate slaap of op die ou stasie se stoepe, sy word besteel en is al verkrag vertel hy. Bring haar sê ek.  So twee ure later kom hy met ‘n baie maer , vuil en verslete vrou by hom ingehak, ingestap. Ek skat haar so sewintig jaar oud. Sy het omtrent nie ‘n tand in die mond nie en die hare by die slape is spierwitgrys.

‘Wat is jou naam?’ vra ek. Ek sit verstom terug toe sy antwoord,' Irene, mevrou'...sê sy in ‘n goed gemoduleerde stem. Ek moet my oë toe en weer oopmaak om die stem by die vrou te kry.  Die man vra of ek nie asb kan help om Irene in ‘n' shelter' te kry nie.  Ek neem haar besonderhede en vra haar ID.  Ek sien met ‘n groot skok dat sy maar 42jr oud is. Vertel my jou storie Irene, nooi ek.
Sy vertel dat sy as jong meisie Durban toe is en daar as ‘n huishulp by baie vermoëende mense gewerk het.  Sy het ‘n vriend ontmoet en na ‘n paar maande besef sy is dalk swanger. Hulle het na Addington hospitaal gestap om swangerskap toetse te gaan doen toe ‘n kombi van agteraf hulle raak gery het. Die man is op slag dood en sy het in die hospitaal wakker geword. Sy het haar een oog in die ongeluk verloor en kort daarna kanker in die ander oog gekry en die oog ook verloor, en toe is ek blind vertel sy.  Die baba het egter geleef.  Sy het begin drink besef ek ... want hoe verwerk mens so ‘n trauma...? Verlief en opgewondende oor ‘n baba tot weduwee, enkelma, blind, sonder werk, noodgedwonge terug by en die spot van die Hongerbult gemeenskap.

Ek ken nog nie die hulpbronne van die dorp so goed nie en  gaan gesels gou met die sekretaresse en vra oor moontlike 'shelter's en of sy Irene ken,  aangesien ek maar ‘n paar maande in die dorp en pos is. Mevrou sê sy , ek ken Irene, sy vertel nie alles nie.. sy is ‘n moeilike vrou.  Sy was al in al die shelters maar hou net ‘n rukkie, dan wil sy drank hê en as sy nie kry nie of toegelaat word om dorp toe te gaan nie begin sy vloek, skel en baklei.  Niemand wil haar meer vat nie, ook nie haar familie nie.

Ek is terug na Irene en sê vir haar dat ek hoor dat sy drank misbruik en die probleem dit baie moeilik maak om haar te help.  Sy trek haarself regop en in die pragtige Afrikaans sê sy verontwaardig. ‘Natuurlik drink ek Mevrou, maar slegs ‘n glasie of twee soms by ‘n partytjie.  As ek my oë toemaak behoorte die stem by ‘n geleerde vrou met gestylleerde hare, pêrels om die nek, ‘n fyn wynglas in 'n slanke goedversorgde hand by ‘n skemerkelkpartytjie.  Die onmoontlike prentjie en die realiteit laat die lag uit my borrel. Daar is ‘n rukkie stilte en weer die mooi stem ...  Hoe lag die mevrou dan nou so vir my? Irene sê ek en besluit om eerlik te wees. Jy het jouself seker baie lanklaas self gesien, maar jy is baie vuil, jou hare is spierwit grys en jy het nie meer tande nie, maar  jy is 'n slim vrou en  jy praat ‘n pragtige Afrikaans, maar ek glo nie dis net soms ‘n paar glasies nie? Glad nie afgesit oor die beskrywing, lag sy saam en  sê: "Ja, Mevrou ek het vir belangrike mense in Durban gewerk maar nou het ek niks. Ek het drie kinders, almal weggevat en is  by vreemde mense, niemand wil my hê nie, in die nag as ek slaap ruil hul my nuwe klere vir ou gemors om en almal jaag my weg".  Ek sê, dis ongelukkig oor jy so vloek en skel as jy gedrink is Irene’. Maar mevrou sê sy ek het nog net my stem as ‘n wapen. .....en die trane begin loop uit die blinde oë. Ek voel 'n besondere deernis vir Irene.  Ons kry ‘n veraf familie lid wat haar kom haal en belowe om na haar te kyk. So drie weke later een etenstyd stap ek uit om die mense wat kom kos haal by die sopkombuis te  groet ''Hallo mevrou, word ek vrolik gegroet, ek kyk om, ‘n skraal vrou met tight jeans, ‘n rooi toeknoop truitjie en ‘n blonde pruik met groot swart donkerbrille en ‘n rooi geverfde mond staan skalks en glimlag teen die kerkmuur. Sy het  my stem herken. Sy voel seker  my onsekerheid aan en sy begin lag met die tandelose mond...  ooooooooo sê sy mevrou ken my nie...dis ek Irene, en sy lag weer guitig. Genugtig Irene, sê ek maar jy lyk goed , gaan dit beter met jou?. O ja mevrou sê sy en gaan staan in die ry vir kos... skynbaar sorgloos en ek wonder hoe lank die sewe vet jare gaan hou maar verlig want haar gemoed en voorkoms lyl soveel beter........maar blind vir altyd blind na binne en buite.............

Geen opmerkings nie: