Elkedag stories

Vrydag 10 Oktober 2014

Lykswa vir Hongerbult


Marna, hier is iemand wat vir Marna wil sien se een van die vrywilligers  in die kombuis by my kantoordeur.
‘Ek is een van die Door to Door vrywilligers  se die man met haar ‘extentions’  in my deur.   ‘Marna, aangename kennis’, sê ek. . Mevrou se hy, ek is erg bekommerd oor ‘n vrou hier in die community. Sy loop op straat, sy is meeste van die tyd dronk en al verkrag en het ‘n klein babatjie op die rug.  Waar bly sy vra ek?  ‘Nee nêrens...sy slaap sommer in mense se agterplase of op die treinstasie se stoep.  Ma as mevrou ha ga soek moet mevrou die polieste saamvat, as sy dronk is,  skel sy mens erg. Het sy nie familie nie vra ek? Ja, maar hulle wil niks met haar te doene hê nie. Maar sy is moeilik mevrou, as sy nie drank kry nie vloek en baklei sy dis hoekom niemand haar meer  in hul huise wil invat nie en as sy drank in het is sy nog erger.
Ek begin navraag doen, almal weet van haar maar niemand weet waar om haar te kry nie. Twee maande later kry ek ‘n oproep. Mevrou ons het vanoggend ‘n baba hoor huil en kry toe vir Die vrou, haar naam in die gemeenskap,  en die baba hier in ons stoorkamer. Ek bel  Inspekteur Johnson, my hulp en ‘bodyguard’ as ek na moeilike huise gaan en spring in die bakkie en die sekretesse in haar karretjie agterna.  Ek maak die deur van die ‘stoorkamer’  oop en die hoenders spring kekkelend weg en hoendermis, hondemis en ou vuur reuke slaan my asem weg. Die vrou lê op ‘ n vuil stukkende matras met haar baba teen haar. Die baba het ‘n vuil hempie aan en ‘n stukkende rooi T-hemp vir ‘n doek. Hulle stink van koors en vuil . Ek skat  die baba  3 maande oud.  Die Inspekteur sê vir haar ons is daar om te help. Sy sê niks. Ek help haar op en hou haar vas, sy is baie swak.
Die vrou skel niks sy is te siek en hoes rou. Ons laai hul in die sekretaresse se kar en ek met die bakkie agterna hospitaal toe.  Ons wag lank en uitendelik word ons gehelp. Die jong assistent trek die vuil klere met ‘n vies gesig weg. Hy luister na haar hart  en toets bloeddruk, ‘baba makeer niks’ seg hy. Ek se ‘Neeee!! , sy is ondervoed en baie siek!’..nee, baie vol van homself en sy eie uitgedinkte kennis,  sy kan huistoe. Die vrou bly. Ek gaan soek vir haar nagklere en klere en babaklere vir die kleintjie. Twee dae later hoor ons Die vrou het gevorderde vigs, TB en erge longontsteking.  Ek kry vinnig ‘n vrywilliger wat die baba, ons hoor haar naam is  Eve, sal neem. Nog  ‘n vrywilliger daar in die kombuis, sy is ‘n kort mollige liefdevolle jong vrou. Sy en haar man neem Eve dadelik  onvoorwaardelik in.
Eve word gevoed maar gooi alles op, laat die vrywilliger  weet. . Ek vra dat sy Eve dadelik terug hospitaal toe neem. Eve se geboortesertikikaat sê sy is een jaar en 3 maande!! Maar 3-6 maande klere pas vir haar. Sy is 6 weke in die hospitaal. Die vrywilliger vat af en sit getrou die hele ses weke langs Eve se kot.  Ook HIV positief, ondervoed en baie swak. Ek onderduk met moeite die verontwaardiging oor die laksheid van die hospitaal want as hulle haar daardie dag opgeneem het was sy nou al baie beter.
Die hospitaal bel, ‘Jou klient het weggehardloop, wat moet hulle doen’? Ek stik van verontwaardiging... ‘ hardloop haar in hoe vinnig kan so siek vrou nou hardloop’, vra ek?. Hul kry haar net op die hoek uitasem op haar hurke, maar die volgende dag verdwyn sy weer. Twee weke later bel iemand uit die gemeenskap. Hul het  haar in hul agterplaas gekry en die ambulans het haar kom haal. Daardie Sondag is sy oorlede.  Eve is ‘n weeskind.
Niemand kom na vore alhoewel sy familie het êrens daar in Hongerbult. Ons kry ‘n baie goedkoop begrafnispakket van ‘n  simpatieke begrafnisondenemer. Die vrou het nie aan ‘ n kerk behoort nie en ek vra Ds Karools om die diens waar te neem. Hy sal dit uit die huis doen sê hy, sy kannie uit ‘n kerk begrawe word nie. Ek is verstom oor die Bybelse onwaarheid maar te bly hy sal haar begrawe.
Twee gesette vroue daag by die kantoor op hulle wil ‘n kollekte hou in die gemeenskap vir die begrafnis en hulle sal die kos maak. Ek is huilerig oor die omgee vir ‘n straatvrou. Ons samel R1800 in, ‘n geweldige bedrag vir ‘n werklose gemeenskap.
Die kombuisvrywilliger is weer by die deur , hier is familie van die vrou wat dood is wat Marna wil sien. Die man werk en sê hy het ‘n lening aangegaan by sy werk en sal die begrafnisreëlings nou oorvat. Ek is weer aangedaan dat die familie tog vorentoe gekom het  en ons bespreek die dag en tyd. Die volgende Dinsdag 12h00.
Tienuur die dag van die begrafnis bel Ds Karools vervaard. Die begrafnisondernemer sê daar is niks gereël deur die ‘oom’ en niks is betaal nie , en die hoender kook al vir die begrafnisete. Bring jou bakkie, jy is die lykswa lig hy my in.  Ek bel my man en sê ewe niksvermoedend ek is oor ‘n uur terug, die  werksbakkie is nou die lykswa.
Ek jaag verwoed deur die stofstrate, Ds Karools reël sommer manne langs die pad, spring in julle moet help met die kis en ek  kom by die begrafnisondernemer aan met ‘n klomp vreemde vrywillige kisdraers.  Nee sê  hulle ons moet eers vir Die vrou aantrek en ‘make –up’. Ek is  sommer weer  tranerig dat hulle dit doen vir ‘n amper verniet begrafnis en sit geduldig en wag. ‘n Groot vrou in swart geklee kom op die sypaadjie aangewaggel. Kan ek saamry? En terwyl ek nog my asem intrek klim sy hygend langs my in. En ons wag. Sy weet wie ek is en van deur die windgeid vra ek nooit wie sy is nie.  Ons gesels sommer oor dit en dat en ek vertel dat dit nou baie goed gaan met Eve.
Tien voor twaalf, die begrafnis is twaalfuur word sy agter ingelaai en ek ry respekvol 20km ‘n uur , met hoofligte aan die straat af, die lokasie in. Ek word met baie handswaai  en gebare van agter uit die bakkie pad beduie die stofstate in, hier regs daar links, tot ons by die huis waar die diens gaan plaasvind.
Die kis word afgelaai en in die voorhuis op twee kombuisstoele staan gemaak. Ek kry ere staanplek aan die kop van die kis. Die mense sing slepend en in die hoek snik die familielid wie die vrou nie in haar huis wou hê nie, nou hartstogtelik.
Ds Karools maak keel skoon en lees uit die Bybel, die mense kom en gaan en sterk hoenderreuke kom uit die piepklein kombuisie. Ds Karools trek los hier langs my en ek skrik my gedaan. “Die vrou is vir ons ‘n teeeeeeeeeeeeken dat ons nooooooit weeeeeer iemand wat noooooooooood het mag miskyk nie” , gil hy. Hy skree vir amper 15 minute oor die vrou se swaaaaaaaaaaarkry en hoe ons as community moet waaaaaaaaaak oor die wat siek is en swaaaaaaaaaaaarkry. Ouma snik al hoe harder en buite gaan daar ‘n geween op.
Bewerig verskree staan ek nog en dink hulle moet net nie die kis hier voor my oopmaak nie, toe flap Ds Karools met groot gebaar die kis oop. Die vrou lê met haar koppie skeef gedraai en die lippe is met swart gare toegewerk,..’ So much for the make up’ ..dink ek ontgogeld oor die Frankenstein gesiggie hier voor my. Ek sê van skrik bring ‘n kussing vir arme die vrou se kop, skoon in deur die wind geskrik en hulle hardloop die kamer in angstig om die opdrag van die ‘welfare’ uit te voer. Hulle kom met ‘n grusame bont kussing daaruit en bondel dit sonder seremonie onder haar se kop in. Ek moes dit nie gedoen het nie want nou is die swart toegewerkte mond oop en bloot en sy is reeds blou onder die vel. Ek wil nog vir die Ds. sê ek dink nie hulle moet die kinders inbring nie toe trek die klomp los met ‘n huilende lied en die kinders staan oopmond om die kis. Ek mompel vir die Ds. ek is nou in die pad en stap uit en gaan plak myself  neer op die lae stoepie vol stof voor die huis, my gedagtes en emosies ‘n warboel.  ‘n Halfuur later roep hulle my, ek moet die bakkie bring. Hulle laai haar in en die helfte van die begrafnisgangers saam met die kis in, duidelik nie soos hul voorvaders bang vir ‘n lyk en ‘n kis nie.
Ek ry en ry en ry en word telkens entosiasties verder aan gewuif. Doer ver tussen rante in, ‘n paar km van die dorp wys hul gillend daar is die begrafplaas. Moet ek inry ? vra ek ..natuurlik gil hulle..my vraag nie oor ek nie wil nie,  maar die pad as mens dit ‘n pad kan noem, is vol diep slote en bulte en ek sien al hoe lê die bakkie en die arme vrou op sy sy en wonder of die skroewe in my nek  hierdie tog gaan maak.
Ek ry ewe dapper aan en gee myself ‘n klop op die skouer vir ‘4x4 driving’ en is vlietend beïndruk met die bakkie se durf  deur die dongas. Reg aan die einde van die begrafplaas skreeu hulle stop!!!  Mense het verdwaal en ds.  spring in die bakkie om hulle te gaan haal. Oor die rante kom mense aangestap. Die vrou word in haar dood vereer met ‘n skare.
Ons het uiteindelik die kis by die graf en aangesien dit ‘n armmansbegrafnis is is ons verantwoordelik om die kis in die graf te kry.  Met die eerste probeerslag sien ons die graf is te klein , die kis word langs die graf neergeplons en die Ds. en ‘n paar manne gryp grawe en grou dat die grond spat. Dit is net stof en die Ds se hare en swart klere is binne enkele sekondes asvaal.
Die vrouens  bly  slepend met geslote oë voortsing  asof die grootmaak van die graf ‘n alledaagse ding is, dalk is dit.
Twee mans spring in die graf om die kis te help insit. Ek staan half weg teen die bakk en kyk op die graf. Die kis vang die een man teen die bors , net ek sien dit skynbaar, die vrouens staan steeds toe oë en sing en die Ds. ook waardig met oë toe en hoed op die bors.’ Jirre!’ skreeu die man daar onder uit die graf...die fokken kis druk my dood!! Ek spring met kloppende hart vorentoe en gryp Ds wakker uit sy singtrans...vir 'n oomblikl staan almal vervaard nader en klomp hande gryp weereens die kis uit en help die arme man (morsdood geskrik en hand op die pynende bors waar die kis hom gevang het uit die graf) weer is dit ‘n gegrou en stofwalms en uiteindelik is die kis onder in die graf. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer en Ds gooi ‘n allemintige bol grond op die kis. Die mense kom een vir een en gooi grond op. Ds. en die manne gryp weer die grawe en al om die beurt gooi die manne die graf  met groot entosiasme  toe en plegtig word die paar ‘plastic’ ruikers op die graf gedruk. Stof is jyyyyyyyyyyyyyyyyyyyy en tot stof sal jy teruuuuuuuuuuuuuug keeeeeer! 'Spanning en hartseer  werk vreemd op my, en my uitlaatklep  is om so halflyf in die bakkie in te hang en lag  en huil al my spanning en hartseer oor die vrou en weeskind Eve,daar in haar nuwe ma se arms , met ‘n skreeupienk satyn rokkie aan, daar in die bakkie uit.
Toe ek voel ek kan myself beheer draai ek om en begin om my kyk. Grafte so ver as wat die oog kan sien en my oog val op ‘n kindergraf en bo op is eerbiedig ‘n verskeidenheid van tietiebottels, dummies en ‘n grondvuil borslap as ruikers in die grond gedruk. Die seer in my word net meer. Die groot vrou met die swart gewaad klim weer sonder ‘n woord in die bakkie. Ons ry terug na die huisie waar die ete gegee word. Daar is nie ‘n gekuier nie en die mense kry elkeen ‘n ‘take away’ in ‘n wit polisterien bakkie en ‘n glasie koeldrank.  Die lykswa bestuurder kry niks. Die dame in swart vra weer ‘n geleentheid dorp toe en net voor ek haar aflaai vra ek..’en is u familie van Die vrou?..’ja’ sê sy sonder enige traan...’ek is die grootouma van die vrou’. Sy klim uit en haar wegwaggel sê ‘ek het nou my kant gebring’.
Drie uur die middag stap ek die huis in...emosioneel gewond oor my lykswa ervaring maar  my humor kry die oorhand. Waar was jy en wat de hel het jou oorgekom vra my man kwaad bekommerd ? Jy wil nie weet nie en  en bly vasgenael voor die vreemde vrou in die gangspieël staan. Ek is asvaal van kop tot tone, tot my wimpers klou stowwerig aan mekaar vas. Kom ons maak tee dan vertel ek jou...ek het jou mos gese ek was die vrou van  Hongerbult se lykswa....
Fokkof huistoe....
Ek sit en tik aan ‘n verslag in my kantoor toe ‘n ouerige vrou en ‘n ongelooflike vuil , ek skat hom so 2jr in my kantoor verskyn en voor ek nog kan iets kan sê is die kleintjie blitssnel hier langs my en druk so vinnig soos ‘n koperkapel met albei vuil handjies gelyk op die sleutels van my skootrekenaar... letters en syfers verskyn met die spoed van lig op die skerm en ek gryp die seuntjie met ‘n ewe vinnige beweging  en gee hom vir die vrou met ‘n ‘hou hom vas asb ‘, bietjie bewerig  terwyl nagmerries van verdwene verslae deur my kop warrel!.
Die een vrywilliger van die kombuis verskyn soos ‘n voorbode huiwerend agter die twee.
Hoekom is u hier ? my standaard vraag.  Sy laat haar nie tweemaal nooi nie en trek los.’ Mevrou ek is hier oor daai dogter van my, sy is baie stout, (hulle woord vir ‘n alkoholis, seksueel baie aktief en alle ander ongehoorde gedrag en gewoontes) en ‘sy eet die ‘grant’ mevrou’, wat in ons taal beteken,   sy misbruik die kindertoelaag vir haarself en koop drank, ‘en, kla sy met triomf in die oë , sy kyk gin niks na haar baba nie. ‘Mevrou moet daai baba vir my gee, ek kyk klaar na die een’, en sy kyk met moederlike trots na die verby vuil seuntjie. Met die praat kom die drank, ou vuurrook en dae nie gewas walms na my toe. Die klere hang los pante aan haar en in die mond net hier en daar ‘n tand. ‘Ongelukkig,  sê ek , is hier ‘n probleem,ek kan ruik jy drink self , hierdie seuntjie is ongelooflik vuil en jy kla oor jou dogter?. ‘Mevrou, teem sy met verontwaardiging in die stem,  daar kom nie drank oor hiri  lippe nie. ( ‘you could have fooled me’ , dink ek, self half bedwelmd van die goedkoop wynwalms.  Ek stop haar, 'ek gaan nie met jou stry nie die drankwalms is baie erg,  ek werk al lank, en ken drank as ek dit ruik,  so sit asb, dat ek eers jou naam en ander besonderhede kan kry. Sy val onvas op die voete terug in die stoel.
Die vrywilliger  bly huiwer in die deur  en haar lyf wil iets se maar sy bly tjoepstil . Ek is half verbaas oor haar gedrag want vertroulikheid word teoreties hier tussen die mense hoog geag.
Na ek die adres en die algemene inligting gekry het, vra ek:  ‘het jy ‘n man?’ Ek vra nie sommer of hul getroud is nie, dit bring net verleentheid. Sy draai haar kop skeef ..en die stem gaan so paar oktawe hoër. Wat vra mevrou my ? en sy kyk my aan asof ek ‘n moroon is, dai sleg ding, ek het hom djare terug al gesê hy moet fokkof !  Die vrywilliger slaan haar hande saam, spring tot in die kantoor  en op ‘n nog hoër toon skree sy vir die vrou.. Hey, ‘djy kan nie fokkof voor die mevrou sê nie.  Gaan huistoe djy‘s gesuip!’ En so word die gesprek flink namens my beëindig en die vrou summier huistoe gestuur. Die wonder van dit alles is dat sy ook net daar opstaan en loop, terwyl sy vir die kind skree , kom ons gat huistoe! .
Skuus Marna, sê 'n baie bedremmelde vrywilliger , dai vrou is so verlangs familie en ek het gesien hier kom nou moeilikheid,  die wat ek agterna gekom het.  Twee belangrike insigte die oggend.. een, praat net hard en sêe gaan huistoe...en  dalk moet ek die vrywilliger as ‘n assistent aanstel dat sy die kaf van die koring kan skei. En ek tik verder aan die verslag, kalm bedwelm van die goedkoop wynwalms.....

Geen opmerkings nie: