Elkedag stories

Saterdag 11 Oktober 2014

Die handtekening



‘n Ouma staan in die deur. ‘Kan ons asb die polisie bel en mevrou moet saamkom dat ek my kleinkind daar in die lokasie gaan haal, sê sy alles in een asem. ''Wat het gebeur? vra ek. ‘Nee mevrou, my niggie het gebel da uit die lokasie, daai stout kind van my sit in drink met die kleintjie saam haar inni Tavern. Ma ons poliesman ken die geval mevrou, bel hom hy sal kom’.

Ek bel my 'bodyguard' polisieman en binne 10min is hy daar. Ek vra hom of ons nie asb sommer by ‘n ander man ook kan aanry nie, ek soek nou al maande lank ‘n handtekening maar kry hom net nie nugter nie.  Na ek met hom ‘n gesprek gevoer het oor die kind, wat deur bekommerde bure uit die pa en ma se sorg na ‘n verantwoordlike vrou geneem is een nag nie.  Ek het hom ‘n verklaring laat aflê en hy moes toe wag dat die predikant die verklaring bekragtig maar los dit toe net daar en maak spore na hy hartstogtelik gepleit het hy wil nie hof toe gaan nie, hoekom, wil hy nie sê nie.

Die polisieman sê, ry  jy voor. Ons stop en eers is alles doodstil maar die voordeur staan oop. Sarah sê ek vir die ouma... wag net hier ek is nou terug en klim uit. Ons gaan by die voordeur in. Die erf lyk of dit as die plek se asgate gebruik word dis net papiere, plastieksakke bottels en blikkies.  Die voorkamer lyk of ‘n kos en gemors orkaan hom getref het. Daar is ‘n slaapbank oopgeslaan met grysbruinvuil komberse op. Die twee stoele wat daar staan is basies net raamwerke en binne in bietjie stofering en vuil papiere en blikkies in. Ou kos lê op die vloer en meubels sommige baie lankal vasgetrap maar skynbaar was rys een van die laaste disse. Dis rys net waar jy kyk. Sou hulle mekaar daarmee gegooi het wonder ek. Die mure is pikswart en dit voel of ek in ‘n grot staan. Die polisieman loop regdeur en ek agterna..die kombuis is ook pikswart die kaste gaap oop  ook swart binne in maar dolleeg. Die hele een toonbank is vol hoendervere en bloed. ‘Lyk my hulle het eers met die hoener baklei sê die polisieman so terloops oor sy skouer en stap agter uit en ek nou baie dik van die lag agterna.  Agter staan die klomp soos vasgekeerde skape gebondel,  seker uit gehol toe ons voor gestop het.

Agter is ‘n sinkhuis en as dit enigsens moontlik is nog vuiler as die huis voor. Die paartjie bly daar,  hulle is beide stormdronk, dit is half tien in die oggend. Die dronk paartjie, hul pa en ma, ook nie te nugter nie, die paartjie se jongste, so 2jr oud vuil met net ‘n t shirt en ‘n broekie aan, dit is net 9 grade buite, nog ‘n suster met ook ‘n vuil baba op die heup, staan almal sonder enige doel of rigting en uitdrukking. Kom sê die polisieman, sonder om lang stories te maak, kom teken hier Dan. Die ma kom aangeslinger, nie ‘n tand inni mond, die oë wild, daar moes dagga ook gerook gewees het, daar is gerugte daaroor by dié huis. Die pa kom dronklyf half teen my staan, gee lat ek teken sê hy met ‘n bravade asof hy ‘n prestasie gaan bereik, die ma slaat na hom met ‘n slap dronk arm...’jy sign nie ons kind weg nie, jou sleg ding,’ gil sy vol veroordeling, want die drank bring ‘n heerlike vergetelheid dat sy deur verwaarlosing drie kinders deur die Kinderhof sisteem het. Die man stamp haar ongeërg weg. Sy storm weer nader en probeer mik maar slaan toe my so skrams raak.  Hey! skreeu die polisieman, gedra jou en klap haar met die plat hand dat sy so paar tree weg slinger.  Ek weet nie waar om te keer nie.  Ek probeer die man gefokus kry om te teken en hy teken met ‘n ‘flourish’ mens sou sweer hy teken ‘n tjek van duisende rande. Ek kyk op en tot my verbasing sien ek die hele erf is vol mense en ek voel hoe my oë rek, want reg voor in die skare staan ‘n reuse vrou met swart moesies oor haar hele gesig. Sy het net ‘n breëband wit bra aan en ‘n skokpienk handdoek om die gewigtige lyf gedraai. Sy moes besig gewees het om aan te trek maar nuuskierigheid het skaamheid oorwin. Nie dat dit die skare pla nie,  dis skynbaar net ek wat dink dis ongehoord snaaks. Die pa slinger weg, hier is nog een wat jy moet teken roep ek hom terug en hy kom weer teruggeslinger en kom lê so half teen my en teken met dieselfde oordadige handswaai die tweede kopie. Die ma bly op hom skêl maar bly so paar tree versigting weg soos ‘n hiëena wat bang is vir die leeu by ‘n bok, veilig uit die bereik van die polisieman se moontlike handklap.  Ek groet almal vriendelik soos dit ‘n maatskaplike werker betaam. Die skare is egter nou deel hiervan en dis ‘n ‘sjerrap Mieta, hou jou bek dronkgat, en klap ha wee! Inspektor!-koor. Ek kry arme Mieta half jammer. Ek besef hulle dink dit gaan oor die jongste, wat glo veronderstel is om onder toesig van die oupa en ouma te wees maar betwyfel sterk die veiligheid en welsyn van die arme kind.  Ek roep die oupa en verduidelik dat dit oor die dogtertjie gaan wat reeds in die voornemende pleegouers se sorg is, totaal ondervoed gewees, erge fetale alkohol sindroom en steeds half haar veronderstelde gewig.  Hy is dankbaar en sê hy sal sy seun sê as hy weer nugter is. Ek verduidelik dat ek lang gesprekke wel met hom gehad het en hopelik sal hy onthou wat ons ooreenkoms was.  Ek herinner hulle daaraan dat hulle baie welkom is om vir die kind te gaan kuier maar hulle moet nugter wees. Hy belowe plegtig. Ek groet en Mieta het die glimlag as ‘n geleentheid gesien . Sy kom lê vertroulik teen die bakkie se deur, kan nie eintlik regop bly daarsonder nie en sê sleeptong...en het Mevrou vir Mietatjie vergeet want ek het dan nie ‘n kombers gekry nie.  Ek sê kom maar as jy nugter is. Kom weg daar skreeu die poliesman en sy skarrel vinnig weg terwyl die skare haar verder toesnou. Daardie middag begin ek jeuk en besef net die paar oomblikke in die grotvuilsitkamer het skynbaar die vlooie geleentheid gegee om op my te klim. Ek lyk te naar en  jeuk dat dit ‘n aardigheid is. Ek vervies my  vir hierdie vuil huis waar drie volwasse vrouens woon en voor werk die volgende oggend , kwart voor agt stop ek die 'welfare' bakkie seker tot hulle ontnugtering weer voor hul deur.  Die bure peul dadelik weer uit hul huise en in die erf in om te hoor wat het die welfare nou te sê. Ek roep die ouma, groet en praat baie ferm: ‘ Mevrou ek is vol vlooibyte, dis omdat julle huis en tuin so vuil is Dit is onaanvaarbaar. Geen kind kan in so vuil plek bly nie. Ek gaan vanmiddag kom kyk, as hierdie plek nie silverskoon is nie dan moet ek maar hierdie kind ook verwyder, hy kan onmoontlik nie in so vuil plek grootword nie, en dit is buiten julle gedrink en dagga rokery. Mieta  die ma is by, ernstig  en sonder die bravade die keer, die oë rooi belope en steeds nie heeltemal nugter nie en  die jonger dogter met die baba op die heup is ook daar, almal se koppe knik op en af , die fight uit hulle uit so vroeg in die more en die pienkhanddoek buurvrou begin sommer terstond papier in haar erf ook optel, want sy sien hier kom moelikheid. Daardie middag stop ek en stap in, die ouma lê op die bankbed en skarrel met haar vet ronde lyfie om regop te kom, middag mevrou sê sy en nooi my met  selfvertroue en 'n vinnige handgebaar die  huisie in. Ek staan regtig verstom , hulle moes sonder om te rus gewerk het.  Ek  herken amper nie die plek nie... dis skoon, mevrou!  en sy  wys trots na die kombuis se kant toe, ons moet nog net die mure was sê sy ... ek bedank hulle en oooo! en aaa! regtig beïndruk  oor die skoon huis en erf. Dis wonderlik sê ek, kyk nou net wat julle drie vrouens reggekry het. Die ouma en Mieta lag oopmond en die jonger ma glimlag terughoudend.  Ek gaan elke week kom kyk...is dit reg so? Die koppe knik op en af.  Dalk gebeur daar nog wonderwerke , hulle het darem iets gedoen om die vyfde kind te behou dink ek dankbaar, klim in my bakkie en waai vrolik vir pienkhanddoekbuurvrou wat maar huiwerig terugwuif met die papiere wat sy vinnig by haar opgetel het in die hand.!
Mevrou word nie kwaad nie.. se die ouma wat geduldig gesit en alles aanskou het terwyl sy in die bakkie wag... .. ek dink so biejtie oor haar vraag.. . Nee, antwoord ek mens word nie kwaad oor wat jy doen as jy gedrink is nie... mens word kwaad  dat hier nooit  in al die jare... deur die 'powers to be' iets gedoen is om hierdie verskriklike toestand van drank, dwelmmisbruik, swak skole, geen hulpbronne.. voorkom is nie. Sy knik haar kop somber... kom ons gaan haal jou kleinkind...sê ek en ons ry ver  tot by die volgende township, tot by die volgende baklei vir 'n klein kind se versorging..

Geen opmerkings nie: