Elkedag stories

Saterdag 11 Oktober 2014

Boetman



Ek sit in my kantoor, dit is op die VGK kerkperseel van Hongerbult, dit was eers die toilette maar is nou my kantoor en die dagskooltjie se toilette is nog steeds langsaan. Die vertrekkie is roomyspienk halfpad en ‘n roomgeel bo kompleet soos ‘n draairoomys geverf.

Op die tafel langs pers, rooi en geel nagemaakte blommetjies in ‘n plastiekhouer, lag die adminbeampte se mansvriend my wittand toe in ‘n blou portretraampie. Die eenkant van die muur is vol geplak van gebeurtenisse! Notas en tel nommers. Oor die klein venstertjies hang geblomde ou gordyne met ‘n satynstrik vasgebind. Die lessenaar se boontste laai is sonder ‘n handvastel en die kaal spykers staan soos ystervarkpenne en haak getrou elke oggend in my klere vas... nie trui, jas of rok vriendelik nie.. ek het gou daarom geleer werk.

Elke oggend klokslag om tien oor tien kom die rye kleuters van die Dagskool en groet-sing hul fyn hoë stemmetjies, Mooooore taaaaannie Maaaaarna, dis nou na ek hulle so geleer het om te groet as hul ‘n volwassene sien. Aan die anderkant van my kantoor het die mense van die huis langsaan  die kerkerf vir hulself toegeeien  vir hulle self lang wasgoeddrade gespan van hul huis se dak tot aan die boom langs my kantoor. Elke Maandagoggend klokslag as ek by die werk kom groet helder bont waaiende kledingstukke, babadoeke en bloemers  my.  Papier, leë blikkies, plastieksakke en bierbottels lê vas gewaai teen die kerk se heining en groet fladderend saam in die wind.

Twee polisievroue wat gevraarlik uit hulle uniforms bult klop aan die deur. Aan die hand staan twee dogtertjies, so 9 en 11 jr oud, die gesiggies ernstig, die skoolklere vuil en aan die voete skoene sonder sokkies.

Ek stel myself voor en die polisievrou sê ek moet asb vir die twee kinders help hulle het by die skool kom vertel hulle ouma se nuwe kerel dreig hy gaan hul verkrag en hul sy vrouens maak.  Waar sou ouma al die energie kry wonder ek en probeer fokus op die probleem. Waar is die ouers vra ek?  Beide se ma’s is oorlede, hulle is halfsusters en hul pa se naam is Boetman, lig die  die polisievrou my in. Die kantoor is te klein - ons staan buite in ‘n kring en praat. Een van die Beheerraadslede sit in die kombuis en tee drink.  Ek laat haar roep en vra of sy van iemand in die gemeenskap weet wat die twee kinders sal neem tot die einde van die kwartaal want dan kan hulle na ‘n tante in ‘n naburige dorp gaan. O ja, sê sy, en gee flink ‘n telefoon nommer.  Die ou tante klink heel opgewonde en sê dis reg. Ek naïef verwonderd oor die onvoorwaardelike hulpverlening.  Ek bel die tante in die naburige dorp en sy sê ook dadelik sy sal die kinders neem maar sy sal eers in die vakansie die kinders kan kom haal.  Ek vra die polisie vroue om die kinders te gaan help pak en die pleegpa saam te bring.

Boetman, glo die een kind se pa, daag vol verontwaardige woede op.   Wat gaan hier aan, wil hy weet, niemand anders kyk na my kinders nie, begin hy bakleierig sommer so met die intrapslag.  Mnr, se ek, as die kinders nie veilig is nie, is dit my verantwoordelikheid ... weet jy van die dreigemente van jou ma se vriend?... ja, sê hy, maar die man bly nie daar nie… hy kuier net daar... Wat dit aan die risiko vir die kinders verander verstaan ek glad nie … die dogtertjies begin huil en die een praat in Xhosa met die polisie vrou. Wat se sy? Vra ek … nee sy sê die pa se girlfriend stuur hulle in die aand as dit reën na die tavern om drank te koop en as hulle weier knyp sy hulle en sy tel haar rok op en wys die spierwit merke wat beteken dit was stukkende vel op ‘n tyd.  Ja, sê Boetman, steeds verontwaardig en staan dreigend vorentoe.. as kinders nie luister nie moet hulle dissipline kry. Ek is so verontwaardig  ek kan my tong insluk maar probeer kalm bly en sê vir hom hierdie is nie dissipline nie, dis mishandeling,  en om sulke jong kinders uit te stuur omdat julle wil drink en te lui is, is verdere mishandeling. Die Kinderwet maak voorsiening om jou ook aante kla Meneer, die Polisie dames skud hulle koppe op en af in beaming van elke woord.  Boetman hou hom braaf en begin skree in Sesotho wat flink deur die een polisie vrou vertaal word … niemand vat my kinders nie, ek kan self vir hulle sorg.  Mnr, se ek, die Kinderwet sê ek moet die kinders van jou wegvat want jy sorg nie vir hulle veiligheid nie… Hy staan verontwaardig met sy voet in die grond  en boor en gluur my aan.

Intussen het die ou tante wat sal help opgedaag.  Sy kloek om hulle en ek laat hulle bietjie sit en gesels sodat hulle nie so vreemd voel nie.  Boetman wil nog verder baklei maar ek vra die polisie dames om hom terug te vat en die kinders en ou tante te gaan aflaai dat hy sien waar hulle gaan bly.  Die kinders lyk baie verlig en is hand aan hand met die tante en hul een sak klere daar weg.

Slegs twee weke later staan die tante voor die deur, die gesig vies en verontwaardig. Ek moet kos gee sê sy of reël vir die grant… Mevrou, sê ek verslae, dit was nie die ooreenkoms nie… jy het vrywillig jou hulp aangebied. Nou wat moet ek hulle gee, vra sy dikmond.  Die ooreenkoms vra werk en geduld blits haar oë beskuldigend, nou moet ek kosgee en hulle versorg en ek het gedink ek gaan voordeel trek, al die kloekende lag van twee weke terug, uit die oë. Dit het net oor moontlike staatstoelae gegaan dink ek, vies vir my blinde vertroue en geloof in mense se goedheid.

Ek praat mooi en sê dit is nog net 2 weke dan is die kinders weg. Sy is kwaad en die woede plof saam met elke tree weg om die hoek.  Na ‘n week is die twee kinders voor my deur ... die enetjie huil dat die trane spat en die ander een voer die woord.  Hulle wil nóu na die tante gaan, sê sy, daai antie lat ons net werk, en stuur ons winkel toe en ons is honger, sy sê ons moet die welfare kom vra vir kos.  Ek paai en gee hulle elkeen ‘n appel en brood wat ons van Pick ‘n Pay geskenk kry.

Die einde van die kwartaal breek aan en die kinders gaan vir die vakansie na die tante met die ooreenkoms dat Boetman se eie kind sal terug kom maar die ander een gaan daar bly. So week in die vakansie in staan Boetman voor die deur.  Djy moet iets doen, val hy met die deur in die huis, hy hoor die kinders is stout da by daai vrou’… hy het ‘n hele lys van klagtes teen die tante.

Ek skakel die tante.  Middag, sê ek, dis die maatskaplike werker hier. Middag Juffrou sê sy en klink baie formeel en ordentlik soos elke vorige keer. Agnes sê ek, Boetman is hier by my en sê hy hoor stories dat die kinders daar in die strate rondloop en nie veilig is nie en laat in die aand eers met tjommies (vriende) inkom. Daar is ‘n rukkie doodse stilte en die volgende oomblik skree Agnes skril in my ore: ‘...Djirre ma dai Boetman kan kak praat. Hy moet daai dinge hier kom sê, ek sal hom klap lat hy tol”... Hierdie keer is die stilte aan my kant, die vloeke en dreigemente stroom uit haar mond van wat sy alles van Boetman en sy stories dink... ek druk die foon toe en lag uit my keel, dit was so onverwags ek kan dit net nie help nie.  Boetman staan so skuins by die deur en kyk my sonder ‘n uitdrukking aan.  Ek kan sien hy dink die djuffrou lag darem lekke saam met die Agnes en hy vertrou die vrede niks nie.  Ek probeer my bedwing en antwoord Agnes kalm. ‘Agnes ek gaan nou nie betrokke raak in ‘n oor en weer geblameerdery nie.  Ek sal die Maatskaplike werker daar vra om ‘n tuisbesoek te gaan doen.  Is dit reg so?’  Dis reg Djuffrou, en ek lui vinnig af want ek kan hoor Agnes het nog baie vir Boetman so langs die telefoonlyn af te sê.  Mnr, sê ek, jy het gehoor wat ek sê, ons wag nou maar vir die verslag en dan maak ons ‘n besluit.  Boetman loop vloekend en kopskuddend weg en skop na die papiere rondom sy voete.  Hier kom moeilikheid besef hy, sy pleegouertoelaag is nou erg in gedrag... geen werklike gevoel vir die kind nie, ... die drinkgeld gaan minder word en hy hou daarvan net mooi niks. Die papiere flap onder sy voete en waai troosteloos weg, na nêrens, soos Boetman se lewe.  



Geen opmerkings nie: