Elkedag stories

Vrydag 10 Oktober 2014

Die vrywilliger

Ek sit en tik  aan ‘n verslag in my kantoor toe ‘n ouerige vrou en ‘n ongelooflike vuil kind, ek skat hom so 'n 2 jarige, in my kantoor verskyn.  Voor ek nog iets kan sê is die kleintjie blitssnel hier langs my en druk so vinnig soos ‘n koperkapel met albei vuil handjies gelyk op die sleutels van my skootrekenaar... letters en syfers verskyn met die spoed van lig op die skerm en ek gryp die seuntjie met ‘n ewe vinnige beweging en gee hom vir die vrou met ‘n ‘hou hom vas asb, bietjie bewerig terwyl nagmerries van verdwene verslae deur my kop warrel! Die een vrywilliger van die kombuis verskyn soos ‘n voorbode huiwerend agter die twee.  Hoekom is u hier? my standaard vraag.  Sy laat haar nie twee maal nooi nie en trek los.’ Mevrou ek is hier oor daai dogter van my, sy is baie stout, (hulle woord vir ‘n alkoholis, seksueel baie aktief en alle ander ongehoorde gedrag en gewoontes) en ‘sy eet die ‘grant’ mevrou’, wat in ons taal beteken, sy misbruik die kindertoelaag vir haarself en koop drank, en, kla sy met triomf in die oë, sy kyk gin niks na haar baba nie.  Mevrou moet daai baba vir my gee, ek kyk klaar na die een, en sy kyk met moederlike trots na die verby vuil seuntjie.  Met die praat kom die drank, ou vuur rook en dae nie gewas walms na my toe.  Die klere hang los pante aan haar en in die mond net hier en daar ‘n tand.  Ongelukkig, sê ek, is hier ‘n probleem, ek kan ruik jy drink self, hierdie seuntjie is ongelooflik vuil en jy kla oor jou dogter? Mevrou, teem sy met verontwaardiging in die stem, daar kom nie drank oor hiri lippe nie - ‘you could have fooled me', dink ek, self half bedwelmd van die goedkoop wyn walms.  Ek stop haar, ek gaan nie met jou stry nie, die drankwalms is baie erg, ek werk al lank en ken drank as ek dit ruik, so sit asb, dat ek eers jou naam en ander besonderhede kan kry.  Sy val onvas op die voete in die stoel. 

 Die vrywilliger bly huiwer in die deur en haar lyf wil iets se maar sy bly tjoepstil.  Ek is half verbaas oor haar gedrag want vertroulikheid word teoreties hier tussen die mense hoog geag.  Na ek die adres en die algemene inligting gekry het, vra ek: ‘het jy ‘n man?’ Ek vra nie sommer of hul getroud is nie. Sy draai haar kop skeef .. en die stem gaan so paar oktawe hoër. ' Wat vra mevrou my'? en sy kyk my aan asof ek ‘n moroon is, 'dai sleg ding, ek het hom djare terug al gesê hy moet fokkof' !  Die vrywilliger slaan haar hande saam en op ‘n nog hoër toon skree sy vir die vrou.  'Hey,djy kan nie fokkof voor die mevrou sê nie. Gaan huistoe, djy‘s gesuip!’  En so word die gesprek flink namens my beëindig en word die vrou summier huis toe gestuur. Die wonder van dit alles is dat sy ook net daar opstaan en by die deur uitslinger, terwyl sy vir die kind skree, kom ons gat huistoe!. Die seuntjie waai vrolik en skree 'koebaai!'.. 'Skuus Marna', sê die vrywilliger bedremmeld, 'dai vrou is so verlangs familie en ek het gesien hier kom nou moeilikheid, die wat ek agterna gekom het en bly staan het.'.  

Dalk moet ek die vrywilliger as ‘n assistent aanstel dat sy die kaf van die koring kan skei.  

Ek tik verder aan die verslag, kalm maar effe bedwelm van die goedkoop wynwalms.....


Geen opmerkings nie: