Elkedag stories

Saterdag 11 Oktober 2014

Games



Ek ontvang ‘n brief van die hoof staatsaanklaer. Kan ek asb ondersoek instel. ‘n Jong ma is gevang en aangekla volgens die Kinderwet, dat sy haar kleuters laat bedel in die straat en so die kinders aan gevaar blootstel en ook bedrog pleeg omdat sy wel staatstoelae ontvang.  Ek ry na die blikhuisie  in hongerbult toe en kry die nommer na 'n lang gesukkel.. Niks is numeries of in enige logiese orde. Alles is toe geslot en grendel. Ek ry na die suster se huisie toe waar volgens die staatsaanklaer die kinders gelaat is. Die sit met ‘n gebreekte been in gips op ‘n omgekeerde blik, agter in die erf en ‘n hele paar mense om haar, sommer so op die grond. Hulle verdwyn soos mis voor die son?. Wat het gebeur vra ek, nee sy het daar by die agterdeur uit geval sê sy. Ek slaan my verbeelding hok oor die vooraf storie voor sy by die agterdeur met die hoë trap afgeval het en vra wat het van haar suster en die kinders geword. Die ma het haar kinders kom haal sê sy, en hulle het baie gehuil oor haar sê sy verontskuldigend maar ek hoor die verligting in haar stem. Die wonder van ‘n kind dink ek... mishandeling,  maar die ma is die ma. Ek soek lank maar niemand kan haar opspoor nie.

SASSA ontvang kospakkies en die nuus versprei soos ‘n veldbrand... en daar is gou ‘n lang ry elke dag voor my deur.  ‘n Maer man met een oog stap in. Karools is sy van en hy gee sy adres , en ek herken dit dadelik. Waar is Mary, vra ek dadelik.. nee, sy is ma da by die huis sê hy en die een bruin oog kyk my behoedsaam aan.  Waar is die kinders vra ek?  Nee, die oudste is by die suster in ‘n naburige dorp, sy gaan daar skool en die ander een is ma hi.  Sê vir haar ek wil haar dadelik sien, sê ek.  

Sy daag die volgende dag op en staan vroeg wantrouig gehoorsaam by my deur met die vier jarige kind by haar.  Haar lippe is geswel en gebars van die spirits. Sy en die kind is vuil en verslete.  Ek soek jou lankal Mary sê ek, hoe gaan dit met jou?  ‘Nee goed mevrou’. Het jy al werk gekry? Ek was so eenmaal ‘n maand wasgoed vir iemand hi, sê sy”. Dis goed sê ek.

Die kind is baie nuuskierig en die ogies blits oor alles. Hy sien dadelik die mandjie vol sagte speelgoed raak en vra of hy daarmee kan speel. Ek is verras oor die maniere en sê ja dit is net vir kinders daar... hy pak dit dadelik uit en gesels onderlangs met homself. Ek sit met my skootrekenaar voor my en tik sommer direk al die inligting sodat ek dit vir die staatsaanklaer kan deurstuur. Die seuntjie is gou verveeld en kom staan langs my. ‘Antie vra hy, terwyl sy ogies vasgenael op die skerm is...’speel jy lekke games?  Ek lag uit my keel en die ma gooi haar kop agteroor, skop haar bene uit en lag heerlik saam, ek glo nie sy verstaan waarom ek lag nie, seker maar net baie verlig dat die welfare so lekker lag.  Die kind bly in ‘n shack, bedel op straat maar hy weet van TV games...Leef ons nie in ‘n interessante eeu nie?  Ek lag so vir die prentjie hier voor my, ek kan nie geantwoord kry nie maar sê nadat ek bietjie bedaar het. Nee, tannie werk...hy kyk my ongelowig aan, asof hy dink ‘ you could have fooled me’ hiri goed is net vir games. Sy ogies vang die skerm van die ander ou rekenaar en sy volgende vraag laat my weer hard lag... werk dai TV nie? Nee, sê ek dis ‘n rekenaar , sien die onkunde in die ogies en se ‘computer’...die ogies blink herkennend en hy vra kan ek op hom speel... nee, sê ek dit is ongelukkig af. Hy bly langs my staan ... en vra weer... is hi ni games op nie?...die hoop beskaam nie ... dink ek .

Ek verduidelik vir die ma dat die kind nodig het om te leer aangesien hy ‘n slim, nuuskierige  kind is en  laat die ma belowe dat sy hom na ons dagskooltjie sal bring. Bring hom asb pleit ek... sy belowe en hulle loop... die kleintjie skree vrolik baai en waai met die vuil handjie en verdwyn om die hoek!  Ek hoop hulle kom want miskien kan ons die outjie ‘n toekoms gee want sy ma het reeds lankal hoop verloor en haar oorgegee aan die vergetelheid wat drank bring. 'n Week later kom skryf sy hom in....

1 opmerking:

Linda v Rensburg het gesê...

Jou stories is soo lekker om te lees. Ek giggel baie, maar kan ook die hartseer daarin sien. Jou vermoeë om dit te beskryf is ongelooflik. Mag jy nog lank blog en ons inspireer.